Etlike maande nadat die VF Plus 'n klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien het aangaande 'n mynverwante sinkgat in Witbank, is daar nog geen terugvoer of oplossing nie.
Intussen vrees inwoners van Jacaroo Park in Witbank in die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, Emalahleni / Witbank) daagliks vir hul lewe.
Nuwe krake in plaveisel en mure vorm nou gereeld en 'n sinkgat in die erf van 'n plaaslike huis se deursnee het reeds vergroot.
Die VF Plus het die MRK in Maart gevra om die oorsake te laat ondersoek wat gelei het tot die vorming van ‘n sinkgat. Dit het gevolg nadat nie die myn of die munisipaliteit verantwoordelikheid vir die rehabilitasie daarvan wou neem nie.
Plaaslike inwoners is oortuig daarvan dat die sinkgat veroorsaak is deur mynaktiwiteite langs die woongebied.
Om sake te vererger het die Uitspan-myn sowat drie maande gelede met onwettige bedrywighede in die omgewing begin en skiet gereeld plofstof. Dit lei tot gekraakte vensters en swembaddens in die woonbuurt.
Ten spyte daarvan dat die nasionale departement van minerale hulpbronne en energie die myn versoek het om sy bedrywighede stop te sit, word dit blatant geïgnoreer.
Die munisipale bestuurder, mnr. Sizwe Mayisela, het erken dat die munisipaliteit die bewaarder van die natuurlike omgewing is, maar beperkte jurisdiksie oor mynbedrywighede in die munisipaliteit het.
Die munisipaliteit se assistent-bestuurder van omgewingsbestuur en nakoming, Life Mahlaule, het bevestig dat die sinkgat sowat 300 meter vanaf die ondergrondse mynbedrywighede van die disfunksionele Stock/Tavistock-myn is.
Volgens hom is die saak nog nie opgelos nie aangesien die munisipaliteit wag op terugvoer vanaf die raad van geowetenskap.
Die VF Plus is bekommerd oor die gebrek aan dringendheid aangaande die saak en het 'n dringende versoek aan die departement gerig om sonder skroom die onwettige myn toe te maak.