fbpx
Vryheidsfront Plus

Minister gee VF Plus toe oor optrede teen soldate wat by DRK-seksskandaal betrokke was

Die minister van verdediging en militêre veterane, Thandi Modise, stem saam met die VF Plus dat die Suid-Afrikaanse soldate wat betrokke was by ’n seksskandaal in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), self moet opdok vir die kostes rondom die ondersoek indien hulle skuldig bevind word.

Dit sluit die reiskostes van die ondersoekspan in asook die repatriasiekoste vir die lede self.

Dit het verlede maand aan die lig gekom dat agt Suid-Afrikaanse soldate in die DRK in hegtenis geneem is weens seksuele oortredings en nadat hulle glo met die gereg gebots het.

Die VF Plus het vandag in ’n parlementêre vraag aan die minister gevra of sy sal toesien dat die saak voor ’n militêre hof gebring word indien nodig en dat die optrede nie eindig by dissiplinêre stappe nie.

Indien van die soldate skuldig bevind word, moet alle kostes verbonde aan die ondersoek ook van hul pensioene verhaal word.

Dit sou onregverdig wees om van die land se belastingbetalers te verwag om die uitgawes te dra indien daar wel ’n oortreding plaasgevind het.

Die minister het gesê sy stem saam dat daar streng opgetree moet word om Suid-Afrika se beeld in die buiteland te beskerm.

Daar kan selfs gewone strafregtelike vervolging teen die skuldiges wees aangesien die militêre stelsel soms “stadig” is om op te tree in gevalle van seksuele oortredings, aldus die minister.

Volgens haar is daar reeds ʼn “ellelange opeenhoping” van militêre sake van ’n seksuele aard wat nie afgehandel word nie en dit bring mee dat geregtigheid nie geskied nie.

Daar sal gewis burgerlike vervolging wees indien dit blyk dat die militêre howe voete sleep en daar sal gehoor gegee word aan die VF Plus se voorstel om uitgawes van die skuldiges self te verhaal.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.