Tydens die 2016-munisipale verkiesing het die DA se Midvaal-burgermeester, Bongani Baloyi, belowe om laekoste behuisingontwikkelings in tradisionele gevestigde woongebiede toe te laat. Dit is nou ‘n realiteit.
Baloyi, in samewerking met die provinsiale departement van menslike nedersetting, beoog tans so ‘n ontwikkeling tussen Golfpark en Henley-on-Klip.
"‘n Omgewingsimpakstudie oor die ontwikkeling word tans gedoen, maar die VF Plus het nogtans besluit om die ontwikkeling teen te staan omdat die geoormerkte grondgebied uit onstabiele dolomietgrond bestaan en volgens die VF Plus nie geskik is vir behuisingsontwikkeling nie," sê VF Plus-onderleier in Gauteng en raadslid in Sedibeng-distriksmunisipaliteit.
"Die VF Plus nooi inwoners van Golfpark en Henley-on-Klip om saam met die party beswaar aan te teken teen die beoogde ontwikkeling deur die aanlyn-versoekskrif (www.gemeenskappe.co.za) te steun.
"U stem is van groot belang in hierdie protesaksie," sê Hoffman.