fbpx
Vryheidsfront Plus

Matlosana-burgemeester van pligte onthef

Die VF Plus is bekommerd dat die administratiewe bestuur van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein) op onregmatige wyse polities betrokke is by prosesse van die munisipaliteit om die uitkoms van raadsbesluite te beïnvloed.

Die vermoede word versterk deurdat die hele administratiewe bestuur afwesig was van ‘n spesiale raadsvergadering Donderdag waar ‘n mosie van wantroue teen die burgemeester, Maetu Kgaile, gedien het.  Die mosie is met die ondersteuning van die VF Plus aanvaar met ‘n volstrekte meerderheid van die raad.

Die VF Plus ag die administratiewe bestuur se afwesigheid as onwettig en sal klagtes indien in terme van die Stelselwet, wat enige poging van inmenging deur amptenary verbied.

"Artikel 2 van Skedule 2 van die Stelselwet bepaal dat munisipale personeel die beleid van die raad te alle tye en met lojaliteit moet volg," sê Michal Groenewald, VF Plus-leierin Noordwes en raadslid in die Matlosana-plaaslike munisipaliteit

Groenewald sê amptenare is ook verplig om altyd onpartydig op te tree en hul funksies met ywer, eerlikheid en deursigtigheid te verrig sodat die geloofwaardigheid en integriteit van die munisipaliteit beskerm kan word.

"Almal moet dus gelyk en sonder voordeel behandel moet word.

"Matlosana se administratiewe bestuurslede het deur hul afwesigheid gewys hulle kan nie hul funksies sonder politieke-agendas en inmenging verrig nie.

"Die skeiding van magte en bevoegdhede tussen politieke party en administrasie bestaan juis om te verseker dat demokratiese prosesse effektief en sonder verskuilde agendas plaasvind. Dienslewering is die primêre funksie van ‘n munisipaliteit, nie interne politiekery nie" sê Groenewald.

Die VF Plus sal aanhou terugslaan teen die magsmisbruik van beide politici en amptenary in Matlosana.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.