fbpx
Vryheidsfront Plus

Mangaung-rommelstatus: VF Plus sal vra vir tesourie-oorsig

"Die Mangaung-metro-munisipaliteit is verkeerd om die swak ekonomie, toenemende werkloosheid en verhoogde tariewe as rede van die metro se moontlike rommelstatus aan te voer," sê Armand Cloete, VF Plus LP (Vrystaat) in die Nasionale Raad van Provinsies.

Die graderingsagentskap Moody's het aangedui hy oorweeg dit om Mangaung binnekort tot rommelstatus af te gradeer indien die metro nie dringend sy huis in orde kry nie.

"Dit is juis swak munisipale bestuur deur die ANC wat die oorsaak van die metro se probleme is. Die ANC is self verantwoordelik vir die bose kringloop van agteruitgang in die metro. 

"Die metro se finansiële herstelplan is te min te laat. Dié herstelplan is reeds in Junie verlede jaar in werking gestel, maar geen verbetering is sigbaar nie en Moody’s se oorweging om die metro af te gradeer, wys die ANC bied geen werkbare oplossings nie.

"Die metro is eenvoudig nie daartoe in staat om dienste te lewer, finansiële dissipline toe te pas en daardeur ekonomiese groei te verseker nie. Die feit dat die metro se laste sy bates oorskry en nie sy verpligtinge kan nakom nie, bewys dat die ANC die oorsaak van die probleem in die metro is," sê Cloete.

Cloete sê die VF Plus sal die nasionale tesourie amptelik versoek om oorsig te doen in die metro se herstelplan wat, soos die geskiedenis geleer het, nie deur die ANC geïmplementeer sal kan word nie.

Nasionale tesourie het juis in 2016 gewaarsku teen ‘n langtermynlening van meer as R500 miljoen wat die metro in 'n finansiële onvolhoubare posisie geplaas het. Die metro-raad het die waarskuwing geïgnoreer en voortgegaan met die lening.

"Intussen bly die metro onder finansiële druk, dienste word nie gelewer nie en belastingbetalers kry nie waarde vir geld nie.

"Die VF Plus wil toesien dat munisipaliteite hul grondwetlike verpligting as selfstandige entiteite nakom. Ingryping deur tesourie is nie wenslik nie, maar Mangaung het duidelik nie die politieke wil en vermoë om Mangaung uit sy rommelstatus te red nie," sê Cloete.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.