Die leier van die EFF, Julius Malema, se opruiende en uitdagende uitsprake gister teenoor die Afrikaners en wit mense by die Israelse ambassade, is bewys dat hy nie die Afrikaners en wit mense ken nie. Afrikaners en wit mense se vriendelikheid en ordentlikheid moet nie gesien word as swakheid nie,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus.
“Suid-Afrika het nou sterk leiers nodig om kalm en koelkop te bly in ’n tyd waar emosies hoog loop. Uitsprake soos die van Malema skep rassespanning en kan nie bekostig word nie. Malema se uitsprake getuig ook van sy eie swakheid as leier en boonop is hy skynheilig. Dit is juis Malema wat mense aanmoedig om wetteloos op te tree en om onwettig grond te gaan beset.
“Afrikaners en wit mense sal hulle nie op sleeptou laat neem deur Malema nie. Ons sal ons egter ook nie laat intimideer of laat voorskryf oor hoe ons moet optree nie. Dit is ’n grondwetlike reg om protesoptogte te hou en indien Afrikaners en wit mense optogte wil hou sal hulle ferm en met waardigheid hulle standpunte stel.
“Die optogte van Swart Maandag waar mense saam gebid het, is ’n sprekende voorbeeld waar protes op ’n ferm en waardige wyse aangeteken is. Afrikaners het nie kragdadige uitsprake nodig om hulle standpunte te stel nie, maar sal dit met waardige optrede duidelik stel,” het Groenewald gesê.