fbpx
Vryheidsfront Plus

Malema kan nie langer wegkom met aanhitsing tot geweld en rassehaat

Julius Malema se deurlopende oproepe tot geweldpleging en selfs moord en sy opstoking van rassehaat kan nie langer geduld word nie.

Die VF Plus het ‘n klag oor Malema se jongste uitlatings by die menseregtekommissie (MRK) ingedien. Dit word ondersoek.

Sy oproep aan EFF-lede by dié party se onlangse provinsiale verkiesingskonferensie in die Wes-Kaap dat daar afgereken moet word met ‘n wit man wat EFF-lede na bewering by ‘n skool aangerand het, is afstootlik en opruiend.

Malema het verskeie obseniteite gedurende sy toespraak op die konferensie kwytgeraak.

Hy het onder meer sy volgelinge gekritiseer omdat hulle nie reeds met die “wit man”, wat glo geïdentifiseer kan word, afgereken het nie.

Hy het hulle aangesê om die man in ‘n geïsoleerde plek te kry en dat ‘n “rewolusionêr” nie bang moet wees om “te moor” nie.

Hierdie uitlatings word nie deur Artikel 16 van die Grondwet se Handves van Regte, naamlik die reg tot vryheid van spraak, gedek nie.

Die aanhitsing tot geweld word eerder uitdruklik van hierdie vryheid uitgesluit en moet vervolg word.

Die VF Plus sal nie toelaat dat geweld teenoor enige groep in Suid-Afrika aangehits word nie, veral nie minderhede nie.

Die VF Plus het ‘n klag teen Malema by die MRK ingedien. Die MRK het ontvangs erken en bevestig dat die kommissie reeds op sy eie met ‘n ondersoek begin het.

Die party sal ook ‘n strafregtelike klag van aanhitsing tot geweld by die polisie indien.

Die ANC se laksheid om teen Malema en die EFF op te tree terwyl hy so te sê hoogverraad onder hul neuse pleeg met uitlatings soos dat die EFF die mag op enige moontlike wyse moet oorneem, is ewe kommerwekkend.

Daar sal streng teen hierdie ongrondwetlike en onaanvaarbare gedrag opgetree moet word. Dit hoort nie in ‘n grondwetlike demokrasie nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.