"Na maandelange druk op die departemente van gesondheid en openbare werke en infrastruktuur, is die lys van kwarantyn- en isolasie-geriewe eindelik vanmiddag beskikbaar gestel aan lede van die parlement wat dien op die portefeuljekomitee vir openbare werke en infrastruktuur," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid, openbare werke en infrastruktuur.
"Die VF Plus was voortdurend aan die voorpunt van hierdie aksie om die lys in die hande te kon kry sodat lede van die parlement hul oorsigrol oor die geriewe behoorlik kan uitvoer.
"Die VF Plus het hierdie aksie geloods en daarop aangedring om die lys te bekom nadat die voorval by die Zithabiseni-kwarantyngerief in Mpumalanga ‘n paar maande gelede opslae gemaak het toe mense se grondwetlike- en menseregte erg geskend is. Die hooggeregshof het toe beveel dat die gerief gesluit moet word."
"Die VF Plus het dadelik in beide die portefeuljekomitees vir gesondheid en openbare werke en infrastruktuur aangedring om so ‘n lys te bekom en in ‘n stadium het die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, asook die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, die bal vir mekaar aangegee wat betref die beskikbaarstelling van die lyste. Die VF Plus het ook vir beide ministers geskrewe vrae daaroor gevra. Die laaste was aan Patricia de Lille tydens ‘n mondelinge vraesessie in die parlement op 23 Junie 2020.
"Die VF Plus was voortdurend sedert die aanvang van die inperking by kwarantyngeriewe betrokke nadat die party talle klagte daaroor ontvang het van regoor die land. Al die geriewe waaroor klagte ontvang is, het nie voldoen aan algemene gesondheidstandaarde nie."
"Die lys wat vanmiddag beskikbaar gestel is, bestaan uit ‘n totaal van 5986 voorgestelde geriewe en 139 geaktiveerde geriewe. Die VF Plus sal nou behoorlik deur die lys van 60 bladsye gaan om te sien of elke gerief wel ook op die onderskeie provinsies se databasisse verskyn en ooreenkom, watter geriewe wat tans gebruik word voldoen aan die nodige gesondheidstandaarde en watter word nog gebruik waaroor daar klagtes ingestroom het sedert die inperkings," sê van Staden.