"Dit wek groot kommer by die VF Plus dat ‘n 65-jarige man in hegtenis geneem is en van moord aangekla word nadat hy homself en sy gesin volgens alle aanduidings teen ‘n gewapende inbreker wou beskerm," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Groenewald sê dit is die plig van die regering om die publiek deur die reg en die polisie teen misdaad, en in die besonder geweldsmisdaad, te beskerm en wanneer hierdie plig nie nagekom word nie, het die publiek die volste reg om homself te beskerm.
Luidens mediaberigte is Giel Fourie (65) van Grabouw in die Wes-Kaap met ‘n mes aangeval waarna hy eers ‘n waarskuwingskoot geskiet, en die inbreker daarna twee keer in die bors geskiet het.
Sy vrou, Susan (62) en elfjarige kleinkind was ook in die huis. Fourie is later op die toneel in hegtenis geneem.
"Dit is ook kommerwekkend dat daar in die jongste tyd voorbeelde was van uitsprake wat die indruk skep van politieke uitsprake en nie meriete-uitsprake nie. Die Coligny- en doodskis-sake is voorbeelde hiervan.
"Dit sal ‘n kwade dag wees as die publiek van Suid-Afrika, wat homself toenemend teen misdaad moet beskerm, nie meer die beskerming van die polisie en die objektiewe beskerming van die regbank geniet wanneer daar uit selfverdediging opgetree word nie," sê Groenewald.