"Uitslae van verskeie munisipale tussenverkiesings landwyd gister bevestig die tendens van verlede jaar se nasionale verkiesing en in plaaslike tussenverkiesings sedertdien dat kiesers die VF Plus toenemend as alternatief tot die DA verkies," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Die VF Plus het gister in Wyk 5 in die JB Marks-munisipaliteit (Potchefstroom) ‘n kragtoer gelewer deur vanaf 17,6% in 2016 tot die huidige 58,86% van die totale aantal stemme op hom te verenig. Dit is ‘n styging van 41,26%.
"In Wyk 18 in die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Witbank) het die VF Plus gegroei van 3% in 2016 tot 31% van die aantal stemme.
"In ander provinsies is die groei ook gehandhaaf. In Wyk 3 in Drakenstein in die Paarl (Wes-Kaap) het die party met meer as 10% gegroei en in Wyk 2 in Knysna met sowat 8%.
"In die Noord-Kaap in Phokwane het die VF Plus vir ‘n eerste keer verteenwoordiging in die munisipale raad gekry. Die VF Plus het ook sy steun in die Renosterberg-munisipaliteit vergroot.
"In Wyk 2 (Margate) in die Ray Nkonyeni-munisipaliteit, het die VF Plus se steun gegroei vanaf 3% in 2016 tot 8% gister.
"Die groei van die VF Plus, wat in 2019 op nasionale vlak met die algemene verkiesing bevestig is, is sedertdien vasgelê in talle munisipale verkiesings waar die party in sommige gevalle fenomenale groei getoon het."
"In Januarie vanjaar het die party se aantal stemme in Wyk 9 van die Mamusa-munisipaliteit (Schweizer-Reneke) teenoor die 2016-munisipale verkiesing met 87,5% toegeneem terwyl die DA 65% van sy stemme verloor het.
"In September 2019 het die VF Plus ook Wyk 2 in die JB Marks-munisipaliteit (Potchefstroom) van die DA afgeneem.
"Die VF Plus se aantal stemme daar het sedert 2016 se munisipale verkiesing met 56% gestyg, terwyl die DA 65% van sy stemme sedertdien verloor het.
"In Julie verlede jaar met die tussenverkiesing in Wyk 30 van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Stilfontein), het die VF Plus 56% van die stemme op hom verenig en het meer stemme gekry as al vier die ander partye wat deelgeneem het saam.
"Dit raak toenemend duidelik dat kiesers stem ten gunste van beter dienslewering en daadwerklike opposisie teen die ANC. Die VF Plus het ‘n boodskap wat daadwerklike hoop bied vir die toekoms.
"Gister se uitslae toon onteenseglik dat die VF Plus gesien word as die die groeiende alternatief en dit word bewys in die toename in vertroue van kiesers. Die party luister na sy kiesers en tree daadwerklik in hul belang op," sê Groenewald.