Die jaar 2015 snel tot ‘n einde. Finansiële onsekerheid heers in Suid-Afrika.
In hierdie jaar vlug honderdduisende desperate mense voor geweld na Europa.
In Parys Frankryk word 130 mense wreed vermoor – onskuldige restaurant- en konsertgangers.
Bokant Egipte ontplof ‘n terroristiese-bom aan boord ‘n Russies vliegtuig en 224 onskuldige mense sterf.
In Suid-Afrika word amper 18 000 mense of 49 per dag vermoor.
In San Bernardino, Kalifornië word 14 onskuldige mense by ‘n funksie met gewere afgemaai.
Die afgelope 30 dae was daar 29 plaasaanvalle en sewe plaasmoorde in Suid-Afrika. Onskuldige mense wat op die wreedste manier vermoor word. Dit is byna een plaasaanval per dag en sowat twee moorde per week.
Wat ’n liefdelose wêreld waarin ons lewe. Ons logiese reaksie op hierdie nuusgebeure is om te sê dat daar hierdie Kerstyd geen plek vir Christus se boodskap van liefde en vrede is nie.
Vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het, was die engele boodskap met Christus se geboorte. Ons almal smag na rus en vrede. Tog gaan ons ’n Kersfees tegemoet met alles behalwe vrede in die wêreld.
Het ons in so ’n tyd nie juis die boodskap van Kersfees nodig nie? ’n Boodskap van hoop en van vrede tussen mense en met God. God se boodskap wat sê dat God alles nuut maak. Dat Hy sy Seun gestuur het om vir al ons sondes te sterf. Genoeg dankbaarheid daarvoor kan ons nie bewys nie.
Daarom praat Kersfees ook met ons almal in ons soeke na antwoorde in Suid-Afrika in hierdie tye. Sommige mense soek die oplossing in eie krag en dan praat hulle geweld en anti-wit of swart rassisme. Ander soek na die groot leier wat alles oornag met ’n towerformule sal regmaak. Wanneer gaan ons die Bybelse les in Ps. 146 leer om nie op prinse te vertrou nie? Dit gaan goed met die mens wat sy hoop op die Here vestig, sê die Bybel. Dit is ook die Vryheidsfront Plus se uitgangspunt.
Teen hierdie agtergrond wens ek u ’n Geseënde Kersfees en ’n voorspoedige nuwe jaar toe. As instrumente in God se hande gaan ons almal ons bes doen om die nuwe jaar ’n beter jaar te maak. Mag ons die krag en die wysheid daartoe ontvang.