fbpx
Vryheidsfront Plus

Staking van operasies by Steve Biko sprekende voorbeeld van hoe NGV gaan funksioneer

Die Steve Biko-Akademiese Hospitaal in Pretoria moes operasies kanselleer weens stukkende lugverkoelers.

Volgens 'n hospitaalwoordvoerder kan operasies onder die uitermatige hoë temperatuur wat tans in Pretoria ondervind word, nie plaasvind nie aangesien dit die kanse vir infeksies kan verhoog.

Luidens berigte is daar meer as 'n duisend pasiënte by die hospitaal wat wag op operasies.

Die VF Plus het reeds oor hierdie krisis met die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, geskakel en gevra of die nasionale departement van gesondheid nie kan ingryp nie. Dit is onaanvaarbaar dat pasiënte konstante pyn moet verduur weens ‘n gebrek aan beplanning en instandhouding.

Wat hier gebeur is ‘n sprekende voorbeeld van hoe sake in hospitale gaan uitsien indien die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) op die wetboeke geplaas gaan word.

Die VF Plus beklemtoon dit weereens dat die wetsontwerp op die NGV dadelik gestaak en onttrek moet word en eers weer verder oorweeg word nadat al die gebreke in staatshospitale reggestel is.

Die NGV kan nie met die huidige krisis in die openbare gesondheidstelsel enigsins oorweeg word nie.

Daar is reeds ‘n reuse agterstand van 175 000 operasies regdeur die land weens verskeie tekortkominge wat deur die regering self in die Covid-19-tydperk veroorsaak is en die onbevoegdheid wat tans aan regeringskant bestaan om dit reg te stel spreek boekdele.

Die huidige krisis by Steve Biko is nie ‘n nuwe krisis nie.

In 2020 moes die VF Plus oor dieselfde probleem van lugverkoeling met die voormalige minister van gesondheid, Zweli Mkhize, praat.

Die provinsiale en nasionale departemente van gesondheid moet ophou om elke keer die blaam te verskuif na die provinsiale en nasionale departemente van infrastruktuur en openbare werke en toesien dat die kantoor vir die nakoming van gesondheidstandaarde behoorlik toegerus word.

Dié kantoor moet ten volle funksioneer sodat alle hospitale en klinieke behoorlik geïnspekteer kan word om toe te sien dat daar aan wetlike voorskrifte voldoen word om veilige en kwaliteit gesondheidsorg aan Suid-Afrikaners te lewer.

Die VF Plus praat gereeld oor die probleem met die kantoor vir die nakoming van gesondheidstandaarde in die portefeuljekomitee vir gesondheid in die parlement, maar die politieke wil ontbreek aan regeringskant om op te tree.

Die regering sal nou met alle erns vir eers ANC-gedrewe ideologieë en -beleid eenkant toe moet skuif en behoorlike aandag gee aan die probleme in openbare gesondheidsorg.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.