fbpx
Vryheidsfront Plus

Johannesburgse stadsrede bring hoop aan inwoners

Johannesburg se stadsrede en nuwe projekte bring hoop aan inwoners, maar harde werk wag om die stad weer op die herstelpad te kry.

Die VF Plus, wat deel is van die koalisieregering in die metro, het reeds daarop gewys dat dit belangrik is om die afsonderlike werkswyse van die onderskeie departemente tot ‘n einde te bring en formele stappe geneem word om samewerking te verbeter om die stad meer vaartbelyn te laat funksioneer.

Die VF Plus is positief oor die volgende finansiële begroting waar meer moderne masjinerie en voertuie aangekoop gaan word om dienslewering te verbeter.

Met die huidige tekort aan elektrisiteit is dit goeie nuus dat die Johannesburgse metro ‘n kontrak van 24 maande met die Kelvin-kragstasie in Ekurhuleni gesluit het om kragvoorsiening te verseker.

Kabeldiefstal, onwettige aansluitings en sabotasie is ‘n groot deel van elektriese probleme en die VF Plus het daarom gevra die metro moet daadwerklik optree teen mense wat hulle hieraan skuldig maak.

Die stad beweeg in die regte rigting met die aankondiging dat R2,8 miljard vir die volgende drie jaar begroot is vir die instandhouding van die ondergrondse waternetwerk.

Die stad het die afgelope sewe weke 7 500 slaggate herstel, maar die VF Plus het burgemeester Mpho Phalatse versoek om klem te lê op die kwaliteit van werk omdat slaggate na die reën weer vorm.

Die opening van twee nuwe munisipale klinieke word verwelkom asook die feit dat tehuise vir bejaardes nie langer deur die departement van behuising beheer word nie, maar deur die departement van sosiale ontwikkeling. Bejaardes sal nou omvattende én beter dienste ontvang.

Op ekonomiese ontwikkelingsgebied ondersoek die stad spesiale ekonomiese sones om beleggings vir die private sektor meer aantreklik te maak.

Goeie nuus is die beplanning van 2500 nuwe huise vir minderbevoorregtes asook ‘n verdere 3500 wooneenhede deur Johannesburg-maatskaplike behuising oor die volgende drie jaar. Die party het weereens gewaarsku teen substandaard-bouwerk en swak kontrakteurs.

Die stad vorder tans R4 miljard per maand in vir dienste gelewer wat beslis ‘n finansiële hupstoot is.

Die opgradering van dienste in informele nedersettings is belangrik, maar woongebiede waar getroue belastingbetalers woon, mag nie agterweë gelaat word nie.

Die VF Plus is toegewyd om as koalisievennoot die metro finansieel te laat groei tot voordeel van almal wat hier woon en werk.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.