(Debat in parlement: Rampskade aan die Ooskus)
Suid-Afrika het rede om bekommerd te wees oor die stroping van die rampfonds in KwaZulu-Natal aangesien vorige beloftes van pres. Cyril Ramaphosa om bedrog en korrupsie te keer met die Covid-19-noodfonds, geen uitwerking gehad het nie.
Die president het in 2019 ook gesê hy sou die nasionale tesourie en die ouditeur-generaal (OG) betrokke kry om korrupsie te stuit. Die enigste tasbare verskil nou is die intydse of deurlopende oudits wat gedoen gaan word soos die rampgeld aangewend word.
Tog is daar reeds bewerings van bedrog wat plaasvind en daar moet geen twyfel wees nie dat stropers by voorbaat hul lippe aflek oor die vooruitsig om hul hande op die rampfondse te kry sodra dit beskikbaar raak. Veral wat die herstel van infrastruktuur aanbetref.
Kontrakte wat toegeken word, moet ’n deursigtige proses volg. Dit moet gepubliseer word en die publiek moet insae kry in die proses.
Wat die rampskade aanbetref, is dit belangrik om daarop te let dat dit nie net te wyte is aan natuurlike oorsake nie, maar ook aan swak beplanning en onderhoud van infrastruktuur deur die munisipaliteit van eThekwini.
Die SA Kamer van Handel en Nywerheid het in 2019 reeds gewaarsku dat die infrastruktuur dringende aandag vereis. Niks is daaraan gedoen nie.
Die ramp wys ook op die waarde van die kommandostelsel van in 2007 afgeskaf is. Die stelsel se lede was mense vanuit ’n sekere gemeenskap wat hul omgewing geken het en onmiddellik kon optree waar nood ontwikkel het.
Dit het ’n groot leemte gelaat en ek doen hiermee ’n beroep op die president om deur die ministerie van verdediging ondersoek in te stel na die moontlikheid om ‘n gebeurlikheidsgroep soos ’n plaaslike wag tot stand te bring.
So ’n groep kan onmiddellik ontplooi word met ’n noodsituasie soos die onlangse rampvloede. Dit kan gedoen word met die oog op die toekoms aangesien hierdie ramp in KwaZulu-Natal gewis nie laaste ramp is wat Suid-Afrika gaan beleef nie.
Die grootste ramp wat Suid-Afrika egter tans beleef, is ’n onbevoegde ANC-regering wat nie die wil of die vermoë het om korrupsie te bestry nie.
In dieselfde debat het mnr. Fanie du Toit, VF Plus-lid in die NRP, gesê die ANC-regering het om politieke redes, gewildheid en ideologiese drome, opsetlik toegelaat dat munisipale regulasies en wetgewing oortree word op plekke wat deur die rampvloede geraak is.
Dit het direk gelei tot die dood van baie van die 435 mense wat in die ramp omgekom het.
Die impak van die oorstromings kon veel minder gewees het indien stormwaterstelsels skoon en werkend was en basiese instandhouding van infrastruktuur gedoen is.
Ironies genoeg veroorsaak die regering se onbevoegdheid en onvermoë toenemend groter staats-afhanklikheid, werkloosheid en honger. Die ANC is eindelik die grootste ramp wat Suid-Afrika beleef.