Die Weswits-substasie in Carletonville het gisteroggend vir die tweede keer in drie weke onder vandale deurgeloop. Daar is ook op sekuriteitsbeamptes geskiet.
Die vandalisering en kabeldiefstal het vroegoggend tydens beurtkrag plaasgevind wat die hele Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) sonder krag gelaat het.
Drie weke gelede het ‘n soortgelyke voorval plaasgevind waarna die hele Merafong vir weke sonder krag was.
Die Merafong-munisipaliteit is later gedwing om Carletonville en Fochville na ‘n ander elektriese lyn oor te skakel om verligting te bring.
Behalwe vir die vandalisering van infrastruktuur, gaan Welverdiend ook gebuk onder verlengde beurtkrag omdat die kragnetwerk kwesbaar is na vele voorvalle van kabeldiefstal wat beteken die krag skakel nie outomaties aan ná beurtkrag nie.
Tegnici van die munisipaliteit en Eskom moet dan van substasie na substasie ry om die fout te soek.
Diefstal en vandalisering vernietig die infrastruktuur van Merafong en die munisipaliteit beskik nie oor die finansies om die kragstelsel op te gradeer of dit dag en nag te bewaak teen kabeldiefstal en vandalisering nie.