Die VF Plus se klag aan die Gautengse departement van omgewingsake en landelike ontwikkeling oor ernstige waterbesoedeling en rioolstorting deur die Mogal City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Tarlton, Magaliesburg en Muldersdrift), het vrugte afgewerp met ‘n besoek van inspekteurs van die provinsiale departement van landbou aan die besoedelde gebiede.
Die VF Plus het die departement van omgewingsake in Augustus gevra om in te gryp na beduidende rioolstorting in die Bloubank- en Krokedilrivier, Blougatspruit asook ondergrondse waterbesoedeling.
Gastehuiseienaars en gemeenskapleiers het die VF Plus om hulp genader nadat riool vanaf die Magaliesburg- en die Percy Steward-rioolplase deur vakansieplase, gastehuise en erwe begin vloei en in riviere beland het.
Tydens die inspekteurs se besoek aan die Percy Steward-rioolplaas in Krugersdorp, was sewe van die dertien riooldamme buite werking. Dit veroorsaak dat die rioolplaas nie behoorlik funksioneer nie en onverwerkte riool in riviere beland.
Riool vanaf die Percy Steward-rioolplaas word in die Bloubankspruit, Blougatspruit en Krokedilrivier gestort wat veroorsaak dat boere nie boorgatwater kan gebruik nie, besproeiing uit die riviere nie moontlik is nie en vakansieplase en gastehuise langs die riviere se besoekersgetalle daal omdat gaste oor die stank kla.
Die Magaliesburg-rioolplaas wat twee jaar gelede teen R80 miljoen voltooi is, het sedert die ingebruikneming daarvan nog nie behoorlik gefunksioneer nie en om sake te vererger, is die plaas al vir sewe maande sonder elektrisiteit weens vandalisme van die kragbron. ‘n Munisipale werker roer nou rou riool met ‘n handspaan omdat die meganisme buite werking is weens die gebrek aan elektrisiteit.
Die besoedelde Bloubankspruit wat deur die wêreldbewaringsgebied na die Wieg van die Mensdom vloei waar verskeie hominied-fossiele in die gebiede van Sterkfontein, Swartkrans en Kromdraai aangetref word, is reeds onder die aandag van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kultuurorganisasie (Unesco) gebring.
Die toeristebedryf, wat jaarliks groot getalle besoekers na die Wieg van die Mensdom lok weens sy vele unieke besienswaardighede, kan nie bekostig dat Mogale City se wanbestuur hul verder verarm nie.
Die inspekteurs is besig om ‘n verslag oor hul besoek saam te stel en het aangedui dat hulle ook ander betrokke departemente by die ondersoek gaan insluit.
Die wanbestuur van Mogale City strek veel verder as net rioolbesoedeling en behels ‘n algehele ineenstorting van infrastruktuur en dienslewering.
Die VF Plus sal nie huiwer om munisipale wanbestuur-praktyke te openbaar en owerhede te dwing om in te gryp tot voordeel van elke belastingbetaler nie.
Navrae: 082 806 7891