fbpx
Vryheidsfront Plus

Hidrobreking: VF Plus wonder wat is aan die broei

"Die VF Plus neem met kommer daarvan kennis dat die departement van mineraal- en energiesake blykbaar vasbeslote is om skaliegas in die Karoo te ontgin, ongeag die terugslae. Dit is al wat van onlangse mediaberigte en die antwoord op 'n skriftelike vraag van die VF Plus afgelei kan word," sê dr Wynand Boshoff, VF-Plus-LP, hoofwoordvoerder van mineraal- en energiesake en provinsiale leier in die Noord-Kaap. 

"Weerstand teen die ontginning van skaliegas het opgebou toe hidrobreking sedert 2008 ernstig as metode ondersoek is. Daar word vermoed dat natuurlike gas dieper as twee kilometer onder die grond in skalie (brokkelrige versteende klei) vasgevang is. 

"Die holtetjies waarin die gas vasgevang is, is so klein dat dit nie volgens tradisionele metodes ontgin kan word nie. Indien hierdie holtetjies egter oopgedwing word, kan die gas in groter holtes versamel, voor dit na die oppervlak gebring word. 

"Hidrobreking is presies wat die woord sê: Water (gemeng met chemikalieë) word met geweldige druk in tonnels wat deur die skalie loop gepomp, sodat die skalie breek. Dit laat die gas ontsnap om saam met die water en sekere radio-aktiewe stowwe na die oppervlak te styg. 

 

"Die oorbenutting en besoedeling van die Karoo se skaars waterbronne is die mees problematiese aspekte van hidrobreking. Dit kan beteken dat die relatief kortstondige voordeel van gasontginning hierdie kwesbare landstreek permanent onbenutbaar kan maak.

 

"Die appèlhof het op 4 Julie 2019 prospektering met die oog op skaliegasontginning beëindig, deur die regulasies waarkragtens dit gedoen sou word, ter syde te stel. Reeds op 10 Julie het die minister van mineraal- en energiesake, mnr. Gwede Mantashe, aangekondig dat skaliegas steeds ontgin kan word, net volgens ander metodes.

"Die VF Plus wou in 'n skriftelike vraag van die minister weet of hy meer besonderhede oor die ander metodes kan bekendmaak, waarop hy geantwoord het dat navorsing steeds gedoen word. Dié vraag is op 15 Oktober onderteken, maar op 21 Oktober berig die Cape Argus dat drie maatskappye eksplorasieregte vir skaliegas in die Karoo verkry het.

"In die verklaring word verwys na die verlammende droogte wat die Karoo nou reeds ses jaar in sy greep het. Volgens die berig beskou die departement dit as 'n manier om ekonomiese alternatiewe vir dié semi-woestyngebied te skep. 

 

"Vir die VF Plus is dit onverstaanbaar dat die departement met skaliegas volhou, terwyl die gebied buitengewoon geskik vir die opwekking van sonkrag (fotovoltaïese energie) is. Dit is 'n tegnologie wat geen bykomende water benodig nie, nie die omgewing besoedel nie en permanent met  die gevestigde kleinveeboerdery versoenbaar is."

 

"Inwoners van die Karoo sal verskoon word as hulle wonder wat minister Mantashe in die skild voer," sê Boshoff.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.