Die onbevoegdheid van die Gautengse departement van infrastruktuur en ontwikkeling het daartoe gelei dat kontrakteurs vier gesondheidsklinieke aan die Wes-Rand ná vyf jaar onvoltooid agtergelaat het.
Die VF Plus het saam met dié betrokke portefeuljekomitee van die Gautengse wetgewer vandeesweek besoek afgelê by van die onvoltooide klinieke.
Die departement se onvermoë om behoorlike projekbestuur toe te pas en gereelde oorsigbesoeke aan die persele te bring, is die direkte oorsaak van die onvoltooide werk.
Nog bydraende faktore is die departement se beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en om aan militêre veterane, met geen ondervinding nie, voorkeur te gee met die toeken van tenders.
Daar is in Augustus 2017 met bouwerk begin aan die Mayibuye-kliniek in Munsieville in die Mogale City-plaaslike munisipaliteit. Die tender is teen ‘n bedrag van R59,8 miljoen toegeken waarvan R7,8 miljoen bestee is. Die gebou is na 1 150 dae onvoltooid agtergelaat. Slegs 20% is voltooi.
Die Kutsong-suid-kliniek in die Merafong-plaaslike munisipaliteit is in 2016 met ‘n toegekende tenderkontrak van R78,1 miljoen begin. Die kontrak is na 986 dae gekanselleer weens die kontrakteur se stadige vordering. R54,3 miljoen is reeds bestee.
Die Randfontein-kliniek ook in die Merafong-munisipaliteit is in 2018 teen ‘n gekontrakteerde bedrag van R270 miljoen begin. Na 661 dae is die kontrak gekanselleer weens die stadige vordering. Die projek is 70% voltooi.
Daar is in 2021 begin met die bou van die Leratong-kliniek in Mogale City teen ‘n bedrag van R244 miljoen. Na 267 dae het die kontrakteur die projek gestaak.
Belastingbetalers se geld is vir die onvoltooide projekte gebruik – geld wat grootliks in die water gegooi is.
Indien die projekte behoorlik bestuur is, sou dit ‘n positiewe uitkoms op die provinsie se gesondheidsorg gehad het.
Hierdie is weereens ‘n bewys dat die ANC ten alle koste aan sy gefaalde beleid van SEB en regstellende aksie vasklou ten koste van die inwoners van Gauteng.
Gauteng verdien beter as die ANC.