Die ANC-regering is herhaaldelik gewaarsku om op te tree en te voldoen aan sekere vereistes om die sogenaamde internasionale “gryslys” te vermy van lande waar bedrog deur geldwassery hoogty vier.
Daar was op twee gebiede verbetering nodig om gryslysstatus te voorkom. Die eerste is toepaslike wetswysigings en tweedens om te wys dat finansiële misdrywe effektief bestry word.
Die ANC het in beide hiervan gefaal. Die wetgewingsproses het duidelik misluk en as regering slaag die ANC hoegenaamd nie daarin om korrupsie en bedrog te bestry nie.
Korrupsie is tewens ‘n kenmerk van die ANC en al die staatsinstellings onder sy beheer.
Die regering het tot die laaste minuut gewag om werk te maak van wetgewing wat hy in plek moes kry..
Dié Wysigingswetsontwerp op Algemene Wetgewing (Bekamping van Geldwassery en Terrorisme-finansiering) is eers teen einde November verlede jaar in die parlement gedebatteer.
Die VF Plus het toe gewaarsku dat die gebrekkige wetgewende proses hom onvermydelik op die gryslys gaan plaas. Dit het nou gebeur.
Die internasionale Finansiële Aksietaakmag (FATF) wat die gryslys beheer, het nou bevind dat Suid-Afrika gedeeltelik of glad nie voldoen het aan twintig van die veertig vereistes wat gestel word om die lys vry te spring nie.
Vir Suid-Afrika om saam met Nigerië op dié lys te pronk, is ‘n nuwe laagtepunt, selfs vir die ANC, en gaan die land se aansien in die buiteland selfs verder benadeel.
Hierdie verwikkeling hou ernstige komplikasies vir die land in. Dit beteken dat Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) ‘n ernstige knou gaan kry.
Lande wat gegryslys word, het dadelik ‘n verlies aan direkte kapitaal- asook buitelandse beleggings.
Gegewe Suid-Afrika se huidige ekonomiese toestand post Covid-19, reuse werkloosheid en die elektrisiteitskrisis, kon die land nie bekostig om ook op die gryslys te beland nie.
Die ANC het hiermee weer gewys hy is nie in staat om te regeer nie en dat onwettige bedrywighede onder sy bewind toegelaat word om te gedy.
Die internasionale gemeenskap het nou amptelik die stempel op Suid-Afrika geplaas as ‘n land waar korrupsie en bedrog hoogty vier.
Suid-Afrika het dringend ‘n verantwoordelike regering nodig wat nie wegkyk van onwettighede nie, maar alles doen wat nodig is om dit te bekamp. Dit is ‘n regering sonder die ANC.