"Daar is ‘n enorme agterstand met toksikologiese verslae by die departement van gesondheid wat Suid-Afrika se strafregstelsel ondermyn," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Dít blyk uit die antwoorde op amptelike vrae aan die minister van gesondheid oor die aangeleentheid.
"Die toksikologiese uitslae van altesame 28 181 monsters is tans uitstaande en hiervan is 7 889 toetsverslae reeds vir langer as tien jaar uitstaande.
Die volgende vrae hieroor is aan die minister gerig:
Wat is (a) die totale agterstand van toksikologiese verslae tans by die laboratoriums en (b) die totale aantal verslae vir (i) meer as tien jaar, (ii) 10-9 jaar, (iii) 9-8 jaar, (iv) 8-5 jaar en (v) 5-1 jaar;
(2) (a) wat die redes vir die agterstand is en (b) hoe dit uitgewis gaan word.
Alhoewel die departement van gesondheid hierdie verslae moet saamstel, is dit verslae wat in besonder gaan oor motorbestuurders se bloedmonstertoetse vir alkohol.
Die polisie werk nie met hierdie verslae nie, maar wel waar dwelms ter sprake is. Die departement van gesondheid handel met die sake waar bestuur onder die invloed van alkohol ter sprake is. Die polisie verwys dié sake na die departement van gesondheid.
"Luidens die antwoord is die departement se verskoning vir die agterstande ‘n afwesigheid van saaknommers. Dit is ‘n ernstige aanklag van onbevoegdheid en nalatigheid teen die polisie.
"Dit is tans weer vakansieseisoen en die minister van vervoer (Fikile Mbalula) is tans besig met sy gebruiklike sterk veldtog teen bestuur onder die invloed van alkohol.
"Tog dui die groot aantal agterstallige verslae daarop dat dronkbestuurders ‘n groot kans staan om vervolging vry te spring, soos met diegene waar die verslae al bykans ‘n dekade of langer uitstaande is.
"Dit ondermyn direk die strafregstelsel en die verantwoordbaarheid van oortreders.
"Die polisie sal sy huis in orde moet kry en ek sal deur opvolgvrae aan die polisieminister (Bheki Cele) vra waarom saaknommers nie verskaf word nie en waarom die situasie in al die jare nie reggestel is nie.
"Dit kan dui op moontlike korrupsie in die stelsel waar mense beskerm word deurdat saaknommers opsetlik weerhou word, of van totale onbevoegdheid."
"Die vraag kan ook gevra word waarom die twee departemente nooit ‘n poging aangewend het om die probleem reg te stel indien dit so eenvoudig en voor die hand liggend is nie.
"Die polisie is veronderstel om die wet toe te pas, maar hier is ‘n voorbeeld waar polisieoptrede die teenoorgestelde doen en die strafregstelsel ondermyn," sê Groenewald.