Die VF Plus in Krugersdorp het vanoggend vroeg (2 Januarie) gehelp om ‘n beskadigde brug en pad te herstel deur meganiese toerusting te kry om dit weer begaanbaar te maak. Huiseienaars was van die buitewêreld afgesny weens swaar reën wat in die weste van die gebied geval het.
Verskeie inwoners wat langs ‘n stormwatersloot in Krugersdorp-Wes woon, het al hul besittings verloor nadat water meer as ‘n meter hoog deur huise gevloei het. Grensmure is omgestoot, brûe se veiligheidsheinings is vernietig en motors is deur water meegesleur.
Groot dele van die geteisterde gebied is sonder elektrisiteit nadat ‘n substasie weens waterskade beskadig is. Die verwagting is dat die gebiede vir ‘n geruime tyd sonder krag gaan wees. Verskeie paaie in Krugersdorp is gesluit nadat die teeroppervlak deur swaar reën opgelig is.
‘n Hoërskool in Krugersdorp, Hoërskool Monument, is ook erg deur die vloed geraak nadat verskeie heinings omgeval het en tennisbane se oppervlakte vernietig is. Die skool het reeds vrywilligers gevra om met opruimingswerk te help.
Dit is jammer dat die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) nie voorsiening kan maak vir die hantering van noodsituasies nie omdat die munisipaliteit finansieel uitgeput is. Swak beplanning van die munisipaliteit kan daartoe lei dat mense dae sonder elektrisiteit is, paaie nie dadelik herstel kan word nie terwyl die speaker van die raad, Noluthando Mangole, nie verlede jaar gehuiwer het om ‘n splinternuwe ampsmotor van meer as R800 000 aan te koop nie.
Die VF Plus het reeds die privaatsektor en organisasies gevra om mense in nood te help en sal die munisipaliteit versoek om alles in hul vermoë te doen om die elektrisiteit so gou as moontlik te herstel en opruimingspanne te stuur sodat paaie weer oopgestel kan word.
Navrae: 082 806 7891