"Die VF Plus verwelkom die uitspraak van die Grondwethof dat die Wet op Oproerige Byeenkomste wel grondwetlik is," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Die beteken dat die klagte wat die VF Plus hierdie week ingevolge dié betrokke wet ingedien het teen die leier van die EFF, Julius Malema, geldig is.
"Dit sluit ook klagte in wat die VF Plus in Desember 2018 ingedien het teen die leier van die destydse politieke party Black First Land First (BLF), Andile Mngxitama.
"Die klagte teen Mngxitama was haatspraak, aanhitsing tot geweld en die aansporing om ‘n misdryf te pleeg.
"Gister se Grondwethof-uitspraak beteken dat die klagte wat die party ingedien het kragtens die Wet op Oproerige Byeenkomste, kan voortgaan."
"Die klagte wat teen Malema ingedien is, sluit ook die Wet op Intimidasie in aangaande die intimidasie van lede van die polisie.
"In die klag teen Malema , word onder meer gesê dat van die VF Plus se lede en ondersteuners lede van die polisie is, en dat hulle bedreigd voel na die uitsprake teenoor polisielede.
Malema het na bewering onder meer gesê: “Indien die SA Polisie ‘n geveg wil hê, moet hy so sê. Ons sal dieselfde met hulle doen as wat ons in die tagtigs gedoen het”, ook; “ons sal nie net teen hulle in die voorste linies veg nie, maar sal na hul huise gaan en in hul eie huise met hulle en hulle families veg. Ons is nie bang vir die polisie nie”.. en; “ons sal hulle kry, een vir een…”.
"Die dreigement met betrekking tot die jare tagtig is kommerwekkend aangesien die gevreesde “halssnoermetode” wyd algemeen gebruik is om mense in die tyd van politieke geweldpleging te vermoor.
"Niemand is verhewe bo die reg nie, ook nie Julius Malema of Andile Mngxitama nie en die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om hulle tot verantwoording te roep.
"Die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het nou geen rede om nie voort te gaan met vervolging teen hierdie twee persone wat politieke platforms in die land misbruik om haat en geweld te verkondig nie.
"Die tyd het aangebreek dat reg en geregtigheid geskied en dat dié twee persone verhinder word om rassehaat in die land aan te wakker," sê Groenewald.