fbpx
Vryheidsfront Plus

Geld uit infrastruktuurfonds vir skole vir Covid-19-benodigdhede gebruik – spoedige regstelling noodsaaklik

"Miljarde rande van die departement van basiese onderwys se infrastruktuurfonds is gebruik om noodsaaklikhede in die bestryding van Covid-19 aan te koop," sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van basiese onderwys.

"Dit blyk uit 'n opmerking van die direkteur-generaal van basiese onderwys, Hubert Mweli, tydens die gesamentlike sitting van die portefeuljekomitee vir basiese onderwys in die nasionale vergadering en die gekose komitee vir onderwys en tegnologie, sport kuns en kultuur in die nasionale raad van provinsies.

"Tydens die vergadering is die departement se jaarlikse prestasieplan aan die komitees vir goedkeuring voorgelê. Uit die staanspoor het die direkteur-generaal dit gestel dat die plan voor die Covid-19-krisis opgestel is en grondig hersien sal moet word.

 

"Die komitees kon nie ooreenkom of die plan goedgekeur moet word om later gewysig te word; en of goedkeuring teruggehou moet word vir die finale weergawe nie. Die besluit staan gevolglik oor."

 

"Met vraetyd het verskeie lede hulle kommer oor die departement se gereedheid uitgespreek, veral weens die agterstand met betrekking tot infrastruktuur. In reaksie daarop het die direkteur-generaal die skokkende verklaring oor aanwending van hierdie fonds vir Covid-19-benodigdhede gemaak.

"Tydens dieselfde vergadering het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, ook genoem dat niemand weet wanneer skole sal heropen nie.Met die vorige komiteevergadering is 6 Mei as datum vir leerders genoem, maar met die amptelike aankondiging is 1 Junie in die plek daarvan genoem.

"Nou het die minister beklemtoon dat dit bloot 'n voorstel is aan die sogenaamde bevelsraad wat uiteindelike goedkeuring moet verleen. Dit sal op inligting rakende die gereedheid van skole en verspreiding van die virus gegrond word.

 

"Die VF Plus is op rekord dat onderwysinstellings wat in staat is om met veiligheid te heropen, geleentheid moet kry om dit te doen. Dit sal sulke skole in staat stel om beste praktyke vas te stel."

 

"Intussen vertrou die VF Plus dat die herformulering van die staatsbegroting, wat binnekort gedoen moet word, vir voldoende geld vir skole-infrastruktuur voorsiening sal maak," sê Boshoff.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.