Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het met sy provinsiale rede weer net leë beloftes aan die inwoners van Gauteng voorgehou terwyl die vorige beloftes nie eens nagekom is nie.
E-tol is steeds deel van Gautengers se daaglikse bestaan en misdaad en werkloosheid vier hoogty. Tog probeer Lesufi met vergesogte beloftes heuning om die mond van kiesers smeer om weer ANC te stem.
Lesufi se aanstelling van 7 000 vredesbeamptes is nie korrek in terme van die strafproses nie en daar hang dus vrae oor die regsbevoegdheid van die beamptes.
Ten spyte van talle vrae van die VF Plus hieroor, kon Lesufi nog geen besliste antwoorde verskaf nie. Dit is niks om oor te spog nie.
Net so grens sy idee dat die weermag die vredesbeamptes moet oplei, aan die belaglike. Militêre opleiding is gefokus op opleiding vir oorlogvoering.
Polisie-opleiding aan die ander kant, is gerig op wetstoepassing en die handhawing van openbare orde. Lede ondergaan opleiding oor die strafreg, ondersoektegnieke, krisis-ingryping, gemeenskapspolisiëring en konflikoplossing.
Tans hou Lesufi se vredesbeamptes groot potensiële aanspreeklikheid vir die provinsie in en hulle kan belastingbetalers duur te staan kom indien mense byvoorbeeld onregmatig in hegtenis geneem word.
Die opleiding van 40 000 tegnici in samewerking met tegniese kolleges is nie haalbaar nie. Die Gautengse regering beplan om dié projek teen ‘n bedrag van R3,2 miljard te befonds. Dit is nie duidelik waar die geld verkry gaan word nie.
Hy was ook stil oor die onderwyskrisis in Gauteng wat onder hom as LUR vir onderwys hand oor hand toegeneem het.
In Kemptonpark word laerskole gedwing om hoërskoolleerders te akkommodeer in tydelike klaskamers omdat hoërskole oorvol is. Van sy beloofde nuwe skole het dadels van gekom.
Hy kon ook geen werkbare misdaadvoorkomingsplan voorlê om die misdaadsyfer in Gauteng te laat daal nie.
Sy aankondiging dat die provinsie 18 private hospitale gaan omskep in staatshospitale is ook ‘n pypdroom. Die provinsie het nie eens genoeg geld om provinsiale hospitale te onderhou en te befonds nie.
Die premier se toespraak was niks anders nie as leë beloftes en ‘n voorverkiesingsprokie. Hy probeer hiermee voorkom dat hy en die ANC in die opposisiebanke beland.
Inwoners van Gauteng het met die komende verkiesing die geleentheid om die ANC by die stembus te straf en te vervang met ‘n verantwoordbare en bevoegde koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.
Saam kan ons Gauteng herstel en bou.