Die Frances Baard-distriksmunisipaliteit (Phokwane, Magareng, Sol Plaatje en Dikgatlong) se begroting wys dat die ANC se gesentraliseerde model vir plaaslike regering faal.
Een van die redes is dat die munisipaliteit se begroting vir infrastruktuur vir die 2021/22-finansiële jaar drasties besnoei is weens ‘n kleiner toelaag van die sentrale regering.
Die gevolg hiervan is dat slegs R1,8 miljoen vir elk van die plaaslike munisipaliteite in Frances Baard begroot is.
Gesien in die lig van die verwaarloosde toestand van infrastruktuur en die hoë koste van onderhoudsprojekte vanweë die uitgestrektheid van die gebied, is dit totaal ontoereikend.
Distriksmunisipaliteite is gestig om plaaslike munisipaliteite by te staan in die lewering van dienste in gebiede waar plaaslike munisipaliteite tekort skiet.
Onbevoegdheid van die sentrale regering en onderbefondsing maak dit egter onmoontlik en veroorsaak straks groter probleme.
In teenstelling hiermee is die VF Plus se beleid dat plaaslike regering die plaaslike gemeenskap moet bemagtig.
Daar behoort 'n plaaslike munisipaliteit vir elke dorp te wees, met distriksmunisipaliteite wat die yl bevolkte gebiede tussenin bedien.
Volgens die huidige stelsel kan distriksmunisipaliteite net sowel afgeskaf word, aangesien dit geen beduidende rol speel nie.
Dit word bevestig deur die feit dat distrikte se begrotings drasties besnoei word, klaarblyklik sonder om die gevolge daarvan te verreken.
Oorsig, beheer en verantwoordbaarheid is die drie pilare waarop gesentraliseerde regering rus. Sou een van hierdie pilare – laat staan nog al drie – wegval, ontaard gesentraliseerde regering in 'n ramp.
Die VF Plus se gedesentraliseerde plaaslike regeringsmodel is nie net ideologies meer in voeling met die werklikhede van Suid-Afrika nie, dit sal ook alledaagse voordele tot gevolg hê.