Die voortgesette en toenemende elektrisiteitskrisis in die Ekurhuleni-metro wat inwoners en ondernemings sedert die begin van Januarie regoor die metro moet verduur, is onaanvaarbaar.
In talle gevalle het kragonderbrekings dae lank aangehou voordat herstelwerk plaasgevind het.
Die feit dat amper elke groot dorp in die metro geraak is, onderstreep die erns van die krisis.
Kemptonpark het die swaarste gely, met groot dele van die sentrale sakekern en omliggende woongebiede wat herhaaldelik sonder krag was. Boksburg, Brakpan, Benoni, Alberton, Germiston, Nigel, Edenvale en Springs het eweneens langdurige en herhaalde onderbrekings beleef.
Die werklikheid is dat die vraag nie meer is watter gebiede kragonderbrekings ervaar het nie, maar eerder watter gebiede dit vrygespring het.
Die oorsake van hierdie krisis is verouderende infrastruktuur, jare se swak of geen instandhouding, kabeldiefstal en georganiseerde sindikate, onwettige aansluitings, onbeheerde lasverhogings en -verminderings, sowel as Eskom-verwante voorsieningsprobleme.
Dit is nie ’n onverwagte probleem nie, maar die direkte gevolg van chroniese wanbestuur en verwaarlosing veral binne die energiedepartement van Ekurhuleni.
Die VF Plus neem kennis van die stadsbestuurder, mnr. Kagiso Lerutla, se sogenaamde “Fixing the Frontline”-inisiatief.
Hoewel enige poging om noodsaaklike dienste te stabiliseer verwelkom word, bly die party skepties oor die metro se vermoë om die elektrisiteitskrisis daadwerklik aan te spreek.
Inwoners en ondernemings het nie slagspreuke nodig nie, maar ’n betroubare kragnetwerk, funksionerende infrastruktuur, sigbare optrede teen diefstal en aanspreeklike leierskap.
Die metro het sy verpligting versuim om konsekwente en betroubare elektrisiteit aan inwoners te voorsien, terwyl tariewe jaar na jaar styg.
Die VF Plus sal voortgaan om aanspreeklikheid, toesig en onmiddellike regstellende optrede te eis om waardigheid, veiligheid en betroubare noodsaaklike dienste in Ekurhuleni te herstel.


