Met die bek- en-klouseerepidemie wat verwoesting saai met die bemarking van vee, is dit noodsaaklik om dele wat steeds vry daarvan is, te beskerm.
Dit kan gedoen word deur te verseker dat besmette diere nie vervoer word nie – iets waarvoor die wetlike raamwerk bestaan, maar nie die vermoë om dit af te dwing nie.
Bek-en-klouseer is ‘n virussiekte, wat beteken dat dit van lewende draers afhanklik is om te versprei. Dokumentasie wat aantoon dat diere vry van die siekte is, is dus noodsaaklik voordat dit vervoer mag word.
Terwyl dit nie moontlik is om elke pad te patrolleer nie, is provinsiale grense en veilingskrale noodsaaklike beheerpunte.
In ‘n ramptoestand, soos tans, kan redelikerwys verwag word dat die polisie en provinsiale verkeersowerhede die hoofpaaie sal dek. Daar is egter talle kleiner paaie wat slegs plaasgemeenskappe bedien, waar dit moontlik is om beheerpunte te ontduik. Daar moet die owerhede vennootskappe met plaaswagte sluit.
Hierdie strukture het die nodige toerusting en menslike hulpbronne om voertuie wat beeste vervoer, raak te sien en dokumentasie na te gaan.
Samewerking met die owerhede is egter noodsaaklik om te keer dat mense die reg in eie hande neem, wat ‘n plofbare situasie in plattelandse gebiede kan skep.
Veilingskrale hou besondere risiko in en regverdig soortgelyke beheer. Sanitasie van voertuie moet deel van die afslaers se pligte wees.
Hierdie soort maatreëls kan egter bloot tyd koop, terwyl inentings so gou moontlik moet plaasvind. Daarvoor is dit belangrik dat alle vervaardigings- en toedieningsvermoë, of dit by die staat of private instansies berus, geaktiveer word.
Die huidige ramp was met doelgerigte aksie voorkombaar. Dit is steeds moontlik – en noodsaaklik – om die uitwerking daarvan te beperk.


