Die VF Plus verwelkom die Ekurhuleni-metroraad se nuwe selfbestuur-meterstelsel wat inwoners in staat stel om hul eie water- en elektrisiteitslesing in te dien om onnodige foute uit te skakel.
Een van die grootste voordele is dat tussentydse lesings uitgeskakel word en die nuwe stelsel maklik is om ‘n presiese lesing in te dien.
Die VF Plus is ten gunste van die stelsel omdat dit moontlike foute uitskakel wat die meterleser of die persoon wat die data in die rekenaar insleutel, mag begaan.
Dit is ook ‘n klein mate van selfbeskikking wat belastingbetalers in staat stel om in beheer van hul eie lesings te wees.
Die indiening van die lesing kan deur die #MyCOE App gedoen word en al wat nodig is, is om aan te meld, ‘n foto van die lesing te neem en die foto op die stelsel te laai en in te dien.
‘n Kennisgewing word aan die kliënt gestuur wat bevestig sy/haar meterlesing suksesvol ingedien en vasgelê is.
Die voordele van die stelsel is:
• Skakel duplisering uit.
• Kliënte kan akkurate meterlesings self vaslê en indien.
• Die vermoë om foto’s op te laai vir ouditdoeleindes en die bevestiging van die lesing.
• Die instel van GPS-koördinate op die selfoon om akkurate koppeling van die meter aan die kliënt te verseker.
• Konsekwentheid in die stad se verskillende kliëntedienssentrums.
Inwoners wat nie oor ‘n slimfoon beskik nie, kan hul naaste dienssentrum besoek of n meterleser toelaat om die lesing te neem.
Vir hulp kan die Siyakhokha-belsentrum geskakel word by 011-999 5102.