Die burgemeester van die ANC/EFF-beheerde Ekurhuleni-metro, mnr. Sivuyile Ngodwana, leef in ‘n droomwêreld as hy dink dat dié metro goeie diens lewer.
In teenstelling met die uitsprake van goeie dienslewering deur die burgemeester tydens ʼn raadsitting op 25 Januarie 2024, ervaar die VF Plus eerder ‘n vloedgolf van klagtes oor swak dienslewering die afgelope maande.
Die VF Plus het in antwoord op die burgemeester se uitlatings dit duidelik gestel dat die metro eerder besig is om vinnig disfunksioneel te raak.
Een voorbeeld is ‘n familie wat vir 21 dae sonder krag was weens ʼn fout wat binne agt en veertig uur herstel kon word.
Ander klagtes spruit uit ‘n gebrek aan basiese dienste, soos die lewering van elektrisiteit en water, vullisdienste, die gebrekkige aandag aan oorstroomde gebiede en die sny van gras langs paaie en in parke.
Die VF Plus het die burgemeester gewaarsku dat die voorafbetaalde kragmeterstelsel, wat verouderd is, teen November vanjaar vervang moet word. Indien dit nie gebeur nie, sal talle inwoners vanaf November nie meer krag kan aankoop nie.
Die VF Plus het die burgemeester reeds verlede jaar hieroor gewaarsku en vind dit kommerwekkend dat daar nog geen stappe geneem is om die stelsel te vervang nie.
Die burgemeester se taak word natuurlik verder bemoeilik omdat hy ʼn AIC-raadslid is wat tussen die kinderagtige gevegte tussen die ANC en EFF ʼn metro moet bestuur.
Daar kan geen volhoubare verbetering wees totdat opposisiepartye nie weer ʼn koalisie vorm wat die bestuur van die metro kan oorneem nie.
Die VF Plus sal deel van so ʼn koalisie wees, soos in die verlede, en na die beste van sy vermoë die probleme in die metro aanpak tot voordeel van die inwoners.