"Die skok van Suid-Afrika se ekonomie wat van die eerste tot die tweede kwartaal met 16,4% gekrimp het, wys dat ingrypende stappe nodig is om ‘n ommekeer te bewerkstellig," sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van finansies.
"Wat die onmiddellike aanbetref, moet die oorblywende inperkingsmaatreëls opgehef word. Op die langtermyn moet weggedoen word met ANC-beleid wat die ekonomie lank voor Covid-19 reeds op ‘n vernietigingspad geplaas het.
"Suid-Afrika se arbeidsmark moet gedereguleer word en die privaatsektor moet die geleentheid gebied word om die voortou te neem op die pad na ekonomiese herstel. Die teenoorgestelde gebeur tans met wetgewing wat dit onmoontlik maak vir veral kleinsake om te groei.
"Die regering kan nie self werk skep nie en moet daarom eerder 'n gunstige omgewing skep vir die privaatsektor om werk te skep en groei te bewerkstellig."
"Die staat se salarisrekening moet nou daadwerklik gesny word, nie net kosmeties nie en bankrot-staatsondernemings moet drasties hervorm of geprivatiseer word.
"Daar moet wegbeweeg word van drakoniese arbeidswetgewing en beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat grootliks die rede vir die land se ekonomiese ellende is en wat buitelandse beleggers afskrik.
"Huidige ANC-beleid stel die welstand van etlike kaders bo die ekonomiese groei en die welstand van die totale bevolking.
"Die regering moet belasting verdien en nie slegs in nie. Die fiskale krisis gaan nie oor die langtermyn opgelos word deur belastingverhogings en drakoniese wetswysigings wat poog om die staatsinkomste te verhoog nie. Dit sal eerder nadelig wees en die belastingbasis laat krimp.
"Hierdie bitter medisyne is nou nodig nie om te gedy nie, maar net om die agteruitgang te keer en ‘n ongekende krisis af te weer."
"Gebeur dit nie, voorsien die VF Plus dat die regering na pensioenfondse sal mik as ‘n laaste reddingsboei. Fondse sal gedwing word om te belê in regeringsprojekte wat net soos met staatsondernemings en die Covid-19-noodfonds ‘n oop beursie vir plunderaars sal wees.
"Om die onvermydelike vloei van geld uit die land vanweë ‘n verswakkende ekonomie te keer, kan aanvaar word dat drakoniese valutabeheer ‘n beperking sal plaas op geld wat uit die land geneem word.
"Met ‘n negatiewe groeikoers van 16,4%, werkloosheid wat volgens Solidariteit mik na 40% en ‘n situasie waar werkskepping onder ‘n ANC-regering met skadelike beleid nie moontlik is nie, sal al hoe meer mense hul onvermydelik wend tot misdaad as die enigste wyse om te oorleef.
"Die agteruitgang in die land sal die hele streek nadelig raak wat na selfs groter instroming, werkloosheid een misdaad sal lei.
"Dit is die realiteit in Suid-Afrika wat die rooi ligte nie net laat flikker nie, maar helder laat brand. Indien die ANC nie uit sy eie ‘n nuwe koers wil inslaan nie, sal kiesers hom by die stembus moet dwing om dit te doen," sê Wessels.