Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Eindspel van Zuma as president (Artikel Netwerk24)

Die eindspel in skaak is wanneer die koning al meer vasgekeer word. Uiteindelik, wanneer die koning nie meer kan beweeg nie, is dit skaakmat en die einde van die koning en van die spel.

President Zuma bevind hom tans in die eindspel van sy presidentskap.

As na die ANC-verklarings en propaganda na die onlangse vergadering van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee gekyk word, lyk dit egter nie so nie.

Gwede Mantashe, die ANC se hoofsekretaris, sê na die vergadering dat die aanvalle teen Zuma eintlik ‘n aanval teen die hele ANC is en dat die ANC saamstaan teen sulke aanvalle.

Die Gupta TV-stasie ANN7 berig na die vergadering dat die ANC baie sterk agter Zuma staan.

‘n Verdere ANC verduideliking is dat dit opposisiepartye en Westerse magte is wat saamspan teen Zuma om so die ANC uit die kussings lig.

Wat is die regte feite?

Die mosie van wantroue teen Zuma tydens die vergadering is nie deur Westerse magte of opposisielede ingestel nie. Dit is deur van die sterkste en prominentste ANC-leiers in die vergadering ingestel. Die oproep om te bedank kom uit Zuma se binnekring. Dit is verder ondersteun deur verskeie lede van sy kabinet. Ministers wat hy aangestel het.

Zuma het ook meeste gevegte by die vergadering verloor en sy posisie na die vergadering is beduidend swakker as voor die vergadering.

Enkele voorbeelde:

1. Thuli Madonsella het as Openbare Beskermer verlede jaar aanbeveel dat ‘n kommissie aangestel moet word om staatskaping te ondersoek. Zuma het hierdie aanbeveling ontduik deur dit na die howe te verwys om so tyd te wen.

Die vergadering het besluit dat daar dadelik so ‘n kommissie aangestel moet word. Hulle is nie bereid om langer vir die howe en vir Zuma te wag nie. Zuma het dus hier verloor.

2. Volgens binne-inligting het Zuma ‘n paar weke gelede vir minister Lynne Brown geskakel en opdrag gegee dat Brian Molefe weer by Eskom aangestel moet word. Molefe is na alles Zuma en die Guptas se man. Brown het gehoorsaam en Molefe is weer by Eskom aangestel. (Daardeur hou Molefe waarskynlik die rekord vir die kortste parlementêre loopbaan sonder om ooit ‘n toespraak te hou!)

Die Nasionale Uitvoerende Komitee het besluit dat Brian Molefe se heraanstelling by Eskom onmiddellik herroep moet word. Die Eskom raad het daarna Molefe se heraanstelling teruggetrek. Zuma het hierdie geveg ook verloor.

3. In die Noordkaap het premier Sylvia Lucas skielik van sekere ministers ontslae geraak. Dit was enkele dae voor die ANC se Noord-Kaapse kongres. Die Noord-Kaapse premier is ‘n Zuma ondersteuner wat daarmee haar en Zuma se posisie in die Noordkaap wou versterk.

Tydens die kongres is Zamani Saul, ‘n Ramaphosa-ondersteuner, as nuwe Noord-Kaapse leier gekies. Die premier is daarna vanuit die hoogste ANC-kringe gedwing om die ministers wat ontslaan is, terug in hulle posisies te plaas. Dit is duidelik ‘n Ramaphosa-oorwinning en nog ‘n geveg wat Zuma verloor het.

4. Zuma se kantoor het die duisende Gupta-e-posse wat uitgelek het, as vals-nuus afgemaak. In reaksie daarop reik die ANC-hoofkantoor ‘n eienaardige verklaring uit. In die verklaring vra die ANC dat die regering dringend die e-posse moet ondersoek. Wie is nou die ANC en wie is die regering? Teoreties is dit dieselfde mense – maar in werklikheid is dit die Ramaphosa ANC-faksie wat die Zuma ANC-faksie oor die e-posse repudieer en ‘n ondersoek vra.

By die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee-vergadering het Zuma meeste gevegte verloor. Hy het die mosie om te bedank net oorleef omdat daar geargumenteer is dat dit beter is om ses maande te wag. In Desember word ‘n nuwe ANC-president in elk geval verkies. Deur die saak nou op die spits te dryf, kan die ANC skeur — so kort voor die 2019-verkiesing. Dit was hierdie argument van die Zuma-ondersteuners wat die deurslag gegee het.

Baie NUK-lede het nog nie vergeet nie dat toe hulle in Polokwane in 2007 Thabo Mbeki se bedanking geëis het, dit tot ’n skeuring in die ANC en die stigting van Cope gelei het.

Zuma se twee alliansievennote, Cosatu en die SAKP, het reeds teen hom gedraai. Cosatu het verder besluit dat Zuma nie meer welkom is om enige van sy byeenkomste toe te spreek nie.

Soos in skaak se eindspel, raak Zuma se beweegruimte daagliks minder. In skaak probeer ’n koning wat so diep in die moeilikheid is om ’n pion aan die anderkant van die bord te kry. So ’n pion kan dan ’n koningin word wat die koning uit sy moeilikheid kan probeer red.

Nkosazana Dlamini-Zuma is nou net ’n gewone Suid-Afrikaanse burger en so ’n gewone pion, wel met BBP-polisiebeskerming.

Zuma benodig tyd om te help dat Dlamini-Zuma tot die volgende president van die ANC verkies word. Hy glo haar verkiesing is noodsaaklik om hom teen vervolging te beskerm.

Die vraag is of hy skaakmat kan ontduik tot Desember 2017 wanneer ’n nuwe ANC-leier verkies word.

’n Verdere vraag is of sy Dlamini-Zuma-pion die anderkant van die bord gaan haal en koningin word voordat Ramaphosa dalk tot nuwe ANC-president verkies word? Kom ons hou die skaakbord dop.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.