"Dit wil voorkom of die bedrag van R139 miljoen wat bewillig is om boere te help na die aangekondigde droogte-ramptoestand, nou eintlik deel gaan vorm van ‘n maatskaplike hulpfonds en nie om boere te help om kos vir die land te produseer nie," sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van finansies.
"Dié afleiding kan gemaak word in die lig van die antwoord van adj.-pres. David Mabuza op ‘n parlementêre vraag van die VF Plus oor ramphulp aan boere.
"Adj.-pres. Mabuza het gesê daar kan nie ‘n onderskeid getref word tussen kommersiële- en bestaansboere nie en albei moet gehelp word. Kommersiële boere kan volgens die adj.-pres. nie voorrang geniet nie.
"Hy het ook gesê die bedrag van R139 miljoen wat vir die droogte bewillig is, word reeds tussen die provinsies verdeel.
"Dié antwoord maak dit duidelik dat die regering nie die omvang en erns van die droogteprobleem besef nie en nie besef hoe belangrik dit is om kommersiële boere in die eerste plek te sien as diegene wat moet sorg dat daar kos vir die land geproduseer word nie."
"Bestaansboere dra nie werklik by tot voedselsekerheid in die land nie en dit is van kardinale belang dat boere wat die land moet voed, prioriteit moet geniet. Volgens die VF Plus is die doel van die droogtehulp om seker te maak daarvan.
"Sedert die verklaring van 'n nasionale ramptoestand op 4 Maart vanjaar ten opsigte van die vernietigende droogte, is daar nog niks van die R139 miljoen wat vir verligting toegeken is, bestee nie.
"Die hulp wat oor die algemeen deur die regering verleen word is slegs aan kleinskaalse boere.
"Daar is talle kommersiële boere wat weens die droogtetoestand bankrot gespeel het of bankrotskap in die gesig staar. Dit bedreig voedselsekerheid en lei tot werksverliese," sê Wessels.