Dit is hoofsaaklik weens skuld van huishoudings wat nie ingevorder word, nie dat die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Grootvlei, Greylingstad) in Mpumalanga in ‘n geldelike verknorsing verkeer en nie sy rekening aan Eskom kan betaal nie.
Dié uitstaande skuld aan Dipaleseng beloop tans sowat R640 miljoen.
Dit kan direk aan wanbetaling van huishoudings, ondernemings en die staat toegeskryf word.
Op sy beurt is die munisipaliteit sowat R100 miljoen aan Eskom verskuldig.
Onwettige kragverbindings lei tot verdere groot finansiële verliese vir die munisipaliteit en vererger die situasie. Die munisipaliteit werk tans volgens 'n finansiële herstelplan.
Dipaleseng het 'n afbetalingsooreenkoms met Eskom aangegaan om die skuld van R100 miljoen oor die volgende 36 maande te vereffen.
Dit sluit egter amper 'n miljoen rand se maandelikse rente in. Dit het die gevolg dat daar min geld beskikbaar bly vir ander dienste wat gelewer moet word.
Aangesien daar egter slegs sowat 50% van die maandelikse Eskom-rekening ingevorder word, kan daar oor drie jaar 'n nuwe agterstallige rekening van R54 miljoen wees.
Die ironie van alles is dat dit die gereelde betalers is wat die ergste deur die situasie benadeel word.
Die tyd het aangebreek dat vasgestel word waar hierdie gereelde betalers woon en of hulle die dienslewering en onderhoud aan hul omgewing ontvang wat hulle beloon vir hul getroue betaling.
Die staat verplig munisipaliteite om dienste aan alle inwoners te lewer, insluitend hulpbehoewende huishoudings.
Hulpbehoewendes moet egter korrek geregistreer en op datum wees om die subsidies te ontvang wat daarvoor bewillig is. Regstelling van hierdie registrasies moet plaasvind om diegene wat nie kwalifiseer nie, te verwyder.
Indien die belange van betalers en nie-betalers nie gebalanseer word nie, sal Dipaleseng as munisipaliteit, net verder agteruitgaan.
Die VF Plus sal aanhou druk plaas op die munisipaliteit om sy invorderingskoers op te skerp.
Dit is onaanvaarbaar dat ‘n handjievol getroue betalers die groot aantal wanbetalers moet subsidieer.