Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus vra Ramaphosa om kommissie van ondersoek in te stel na openbare gesondheidstelsel

‘n Kommissie van ondersoek moet dringend ingestel word om ondersoek te doen na die totale verval van die openbare gesondheidstelsel in Suid-Afrika.

Die VF Plus het vandag in ‘n debat wat spesiaal oor die aangeleentheid aangevra is, ‘n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om so ‘n kommissie in te stel ingevolge Artikel 84 (2)(f) van die Grondwet.

Die ondersoek moet die kollig onder meer laat val op die onmenslike behandeling van pasiënte in staats- en provinsiale hospitale.

Suid-Afrika se Grondwet maak dit in Artikel 27 duidelik dat almal in die land die reg van toegang het tot gesondheidsorgdienste en dat niemand mediese noodbehandeling geweier mag word nie.

Uit gereelde oorsigbesoeke wat die VF Plus regoor die land doen, is dit duidelik dat die ANC-regering in gebreke bly om hierdie grondwetlike plig uit te voer.

Die realiteit is veel eerder dat die regering toegelaat het, én deur sy optrede ‘n instrumentele rol daarin gespeel het om staatshospitale in slaghuise en lykshuise te omskep.

Grootskaalse korrupsie, wanbestuur, wanadministrasie en onbevoegdheid wat die stelsel tot op die punt van totale verval gebring het, is 'n wesenlike bron van kommer vir alle Suid-Afrikaners.

Dit maak dit ook maklik om te verstaan waarom die publiek geen vertroue in ‘n onbevoegde regering het om ‘n nasionale gesondheidsversekeringstelsel te bedryf nie.

Die dood van 'n lojale staatsamptenaar in die Gautengse departement van gesondheid wat vermoor is omdat sy die fluitjie geblaas het oor ongerymdhede, laat ‘n mens besef hoe wyd en diep korrupsie in die stelsel wortel geskiet het.

Dit sal gewis ander fluitjieblasers afskrik om na vore te kom. Misdadigers is klaarblyklik onaantasbaar en hulle voer ‘n skrikbewind.

Die VF Plus het die afgelope agt jaar gereeld staats- en provinsiale hospitale regoor die land besoek as deel van oorsigbesoeke én wanneer klagtes wat van die publiek ontvang is.

Wat in hierdie tyd gesien is, veral die agteruitgang, was en is skokkend om te aanskou.

Die laaste besoek van die parlement se portefeuljekomitee vir gesondheid die afgelope week in die Oos-Kaap kan as voorbeeld voorgehou word.

Video’s en foto’s wat ontvang is van pasiënte wat aan banke vasgeketting word, op die vloer in gange slaap en sommige met infeksies en oop wonde wat deur familielede versorg moet word, kon ‘n mens nie voorberei oor wat in die Oos-Kaap wag nie. Dit kan slegs as walglik beskryf word.

Die situasie by hierdie en vele ander hospitale deur die land is ‘n duidelike bewys dat Suid-Afrika se openbare gesondheidsorg vernietig is. Dit kan nie meer ontken word nie.

Die agterstand in mediese prosedures vir pasiënte landwyd staan op 175 000. Dit is nog ‘n toonbeeld van die regering se ongevoeligheid teenoor sy landsburgers.

Soos swanger vroue wat moet geboorte skenk voor ‘n kliniek se hek, mediese dokters wat ‘n keuse moet maak oor wie gaan lewe en wie gaan sterwe omdat daar nie genoeg mediese voorraad is nie en pasiënte wat sewe jaar in pyn en lyding moet wag op heupvervangings. Die lys en die voorbeelde is eindeloos.

Verskonings soos die gevolge van Covid-19 deug nie meer nie. Daar sal diep gesny word om die ANC-gewas van korrupsie en onbevoegdheid te verwyder.

Dit kan voltrek word met die verkiesing in 2024. Eers dan sal die herstel van die land se gesondheidstelsel werklik kan begin.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.