Die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Greylingstad, Grootvlei) kan tans geen diens lewer nie weens ‘n totale gebrek aan voertuie.
‘n Ondersoek van die VF Plus na die situasie rondom die bestuur en bedryf van munisipale voertuie wys dat daar nie 'n enkele munisipale diensvoertuig, met die uitsondering van hooggeplaaste ampsdraers se voertuie, in werkende toestand is nie.
Die ondersoek is gedoen ná vele klagtes ontvang is van die publiek wat geen diens ontvang nie.
Die munisipale werkswinkel is oënskynlik nie meer in staat om self voertuie te herstel nie en buitensporige bedrae word betaal aan private ondernemings vir herstelwerk.
Die plaaslike verkeersdepartement het nie 'n enkele voertuig in werkende toestand nie en geen wetstoepassing vind plaas verder as loopafstand van die departement nie. Beide vullisvragmotors is ook buite werking.
Die VF Plus het die tekort aan brandweerwaens reeds maande gelede onder die provinsie se aandag gebring.
Beloftes dat twee nuwe brandweerwaens aangeskaf sal word, is blykbaar slegs lippetaal.
Die party beskou die aangeleentheid in ‘n baie ernstige lig en sluit nie die moontlikheid uit dat daar bedrog en korrupsie betrokke kan wees nie.
Die VF Plus gaan derhalwe daarop aandring dat die situasie op die hoogste vlak bespreek en ondersoek word.
Die munisipale bestuurder, Lwazi Cindi, sal versoek word om moontlike ongerymdhede te ondersoek met die oog op strafregtelike klagte en vervolging.