Dit blyk dat die raad van die Onafhanklike Beleggingskorporasie (OBK) eindelik sy oorsigrol ernstig begin opneem om te sorg dat die OBK verantwoordelike beleggings maak soos blyk uit ‘n besluit om ‘n verdagte belegging by Ayo, ‘n Iqbal Surve-maatskappy, te ondersoek.
Die belegging wat die OBK in Desember 2017 goedgekeur het deur middel van ‘n OBK-beleggingskomitee, gaan nou ondersoek en dalk hersien word.
"Die VF Plus het ook parlementêre vrae oor die aard van die transaksie aan die minister van finansies gevra," sê adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter
Alberts sê die belegging in Ayo was in vreemde omstandighede gedurende Desember 2017 gedoen op grond van ‘n waardasie wat nie rekeningkundig sin maak nie.
"Daar is dus tekens dat die belegging goedgekeur kon gewees het omdat Iqbal Surve ‘n gekonnekteerde ou kliënt is en nie omdat die belegging sin gemaak het nie.
"Dit is tyd dat die OBK omsigtig omgaan met alle beleggingsfondse ongeag die grootte van die transaksie aangesien elke druppel wat uit die emmer lek, uiteindelik die emmer kan leegmaak," sê Alberts