fbpx
Vryheidsfront Plus

Desentraliseer opwekking van elektrisiteit en slaan korrupsie hok

"Die korrupsievoos Suid-Afrikaanse publiek het nog 'n vuishou gekry met mediaberigte wat dui op olieberging wat vir Eskom teen opgeblase pryse gedoen is in ruil vir onder meer skenkings aan die ANC," sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van mineraal- en energiesake.

"Die bewerings is luidens die berigte deel van 'n forensiese verslag wat die Bowman-regsfirma aan Eskom oorhandig het en sit 'n korrupte verhouding tussen Econ Oil en Eskom uiteen.

"Met die Zondo-kommissie waar reeds talle onthullings oor korrupte verkrygingsprosesse by Eskom gedoen is, is dit verstaanbaar dat enige energietransaksie met agterdog bejeën word. Dit geld ook vir die kragskepe ("powerships") wat Suid-Afrika se krag binnekort moet begin aanvul.

"Die minister van mineraal- en energiesake, Gwede Mantashe, het verlede maand die aankondiging oor die kragskepe gedoen. Dit behels reuse vragskepe wat in kragsentrales omskep is. Dié voorsieners gebruik gas- of vloeibare brandstof as energiebron en skakel by die nasionale kragnetwerk in.

"Kontrakte word met die Turkse maatskappy aan wie die skepe behoort, vir twintig jaar gesluit ten spyte daarvan dat Transnet verklaar het dat hy nog geen aansoek ontvang het om die skepe in sy hawens te laat vasmeer nie.

"Elektrisiteit sal teen sowat R1,50 per eenheid aangekoop word, wat die beraamde uitgawe oor die tydperk op meer as R200 miljard te staan bring.

"Wat die wenkbroue laat lig, is die feit dat sonkrag tans teen minder as 50c per eenheid opgewek kan word. Dit is wel net tydens daglig moontlik, maar pryse daal steeds, terwyl batterye ook meer doeltreffend raak wat berginsvermoë en koste aanbetref.

 

"Die sterkpunt van kragskepe is juis dat dit tydelike tekorte kan aanvul, waarna dit na die volgende bestemming vaar. Kan nog 'n ontbloting later verwag word?"

 

"Met Suid-Afrika se goed ontwikkelde kragnetwerk, wye geografiese verspreiding en volop sonskyn, is dit logies om toenemend van fossielbrandstowwe na hernubare krag oor te skakel. Die oorgang sal volledig raak wanneer metodes ontwikkel is om elektrisiteit goedkoop te berg.

"Die hoogtepunt van 'n oorgang na hernubare krag is dat die voorsiening daarvan oor duisende mikro-, klein- en mediumgroot-opwekkingseenhede versprei kan word. Elke verkooppunt kan ook 'n aankooppunt vir krag wees met aanbod en aanvraag wat die prys bepaal.

"Gedesentraliseerde opwekking skakel die moontlikheid vir reuse kontrakte, waar geld onder die tafel deur hande verwissel, grootliks uit. Trouens, indien elektriese vervoer diesel en petrol vervang, sal dit groot bedrae valuta vir Suid-Afrika behoue laat bly.

"Die ANC en EFF verrig dikwels lippediens aan die dekolonisering van Suid-Afrika. Om selfstandig te raak wat energiebehoeftes aanbetref en boonop die energie te gebruik om hulpbronne plaaslike te verwerk, is die wyse om werklik te dekoloniseer.

"Ongelukkig lyk dit of daar tans in die teenoorgestelde rigting beweeg word," sê Boshoff.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.