(Debat in parlement: Die ekonomiese impak van die Finansiële Aksie-taakmag se besluit om SA op gryslys te plaas en stappe wat nodig is om daarvan af te kom)
’n Regering is veronderstel om wakker te skrik wanneer hy op die Internasionale Finansiële Aksie-taakmag (FATF) se gryslys beland. Dit het nie met die ANC gebeur nie.
Die regering is eerder oneerlik met homself en die land oor die nadelige impak van die land se gryslys-status.
Die FATF hou toesig oor internasionale geldwassery en die finansiering van terrorisme.
Die regering is herhaaldelik gewaarsku dat hy op die gryslys gaan beland en dat optrede nodig is om dit te vermy. Hierdie waarskuwings is geïgnoreer.
Daar was twee gebiede waar verbeterings nodig was; die eerste daarvan toepaslike wetswysigings. Dit is uitgestel totdat dit te laat was, al is gereelde vrae in die betrokke parlementêre portefeuljekomitee oor die gesloerdery gevra.
Daarby is ondeurdagte wetswysigings voorgestel sonder om aan die implikasies daarvan te dink.
Dit het die proses sodanig vertraag dat selfs ANC-lede ontevrede was oor die wyse waarop nasionale tesourie en ander departemente die aangeleentheid hanteer het.
Gryslys-status beteken dat daar nie meer vertroue in ’n regering is nie, al probeer die regering dit ook hoe hard ontken.
Persone wat nou weer gekoppel word aan terroristiese bedrywighede en geldwassery vanuit Suid-Afrika, beklemtoon die feit dat die regte meganismes nie in plek is om dit te bekamp nie.
Terwyl nasionale tesourie en ander hard werk om die land van die gryslys af te kry, skep die land se president, Cyril Ramaphosa, boonop verdere verwarring met sy aanvanklike aankondiging om Suid-Afrika aan die Internasionale Strafhof (IS) te onttrek.
Die implikasie hiervan is verreikend. Dit sou daarop neerkom dat Suid-Afrika ’n veilige hawe word vir misdadigers en terroriste omdat hulle nie uitgelewer kan word nie.
Om sake te vererger, word die president persoonlik gekoppel aan valuta wat onder ’n matras in sy huis weggesteek word. Dan moet dit nie ’n verrassing wees as Suid-Afrika op die gryslys beland nie.
Die enigste manier om werklik van die gryslys af te kom, beleggersvertroue te herstel en die ekonomie weer op dreef te kry, is om van die ANC-regering ontslae te raak.