fbpx
Vryheidsfront Plus

DA-begroting van Stad Kaapstad wys inwoners se mening beteken niks

Die DA-beheerde stadsraad van Kaapstad het duidelik nie die oorweldigende openbare reaksie wat teenkanting uitgespreek het oor die begroting van R47.7 miljard wat op 30 Mei 2018 tydens 'n spesiale raadsvergadering aanvaar is, in ag geneem nie.

Van die sowat 50 400 insette wat van die publiek ontvang is, het sowat 80% beswaar aangeteken teen die tariefverhogings wat ver bo die inflasiekoers is.

Veral die verhoging van 19.9% vir water, die maandelikse elektrisiteitsheffing van R150.00 vir eiendomme waarvan die waardasie meer as R1 miljoen beloop asook ‘n maandelikse waterpypheffing van sowat R64.00 is onbillik en plaas groot finansiële druk op inwoners.

Die meerderheid inwoners het gehoor gegee aan die waterbesparings-versoeke van die stad en het in baie gevalle groot onkoste aangegaan om te bespaar om Dag Zero te vermy. Dit is daarom ironies en onregverdig om dié gehoorsame inwoners nou vir hul samewerking te straf.

Die stad se begroting word steeds deur 'n klein persentasie belastingbetalers gefinansier. Hierdie begroting wys dat die stad bereid is om hierdie groep betalers so ver moontlik te melk en selfs te laat verarm om nie-betalers ter wille te wees.

Die tyd het aangebreek dat die verkose DA-raadslede, uitvoerende burgermeester en amptenare die belange van die inwoners bo hul eie wanbestuur stel. Hulle moet erken die nie-aanwending van kapitale begrotings is die oorsaak van hul eie swak beplanning en bestuur, en moet nie die inwoners daarvoor straf nie.

‘n Verdere probleem is die buitensporige salarisrekening van munisipale amptenare wat twee jaar gelede reeds soveel as 32% van die stad se bedryfsbegroting beloop het en tussen 30- en 40% hoër is as in die privaatsektor.

Die DA wys duidelik met die verontagsaming van die openbare deelname-uitslag dat hy volstaan met 'n DA-burgemeesterskomiteelid se uitlating dat openbare deelname nie 'n referendum is nie, maar slegs ‘n opinie van inwoners.

Die VF Plus skaar hom by die getroue, betalende inwoners wat toenemend die juk vir die metro moet trek en sal aanhou om vir hulle belange op te staan en te veg. Die begroting tree op 1 Julie 2018 in werking.

Sel: 072 195 6581

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.