Die moontlikheid om die Polokwane-plaaslike munisipaliteit (Pietersburg) in ‘n metro te omskep, is nie net onrealisties nie, maar onwenslik.
Die uitvoerdende burgemeester van die Polokwane-munisipaliteit, mnr. John Mpe, het onlangs in ‘n media-onderhoud gepraat oor stappe wat dié munisipaliteit onderneem om die munisipaliteit in ’n metro te omskep.
Dit is slegs in ’n droomwêreld waar die totstandkoming van Polokwane as ’n metro moontlik sal wees.
Die feit dat Mpe ook wag vir die munisipale afbakeningsraad se finalisering van wyksgrense, maak dit duidelik dat daar weer van belastingbetalers verwag gaan word om die reeds nie-betalende gemeenskappe soos Mankweng te onderhou.
Selfs moontlike oplossings soos die installering van slimmeters om inkomste te genereer vir die munisipaliteit, bied geen waarborg vir ‘n inkomste nie aangesien sekere gemeenskappe daardeur in opstand kan kom.
Volgens Mpe is die grootste struikelblok vir metrostatus die gebrek aan ‘n voldoende en volhoubare inkomste. Die munisipaliteit samel jaarliks slegs R1,7 miljard in teenoor die R2 miljard wat nodig is om metrostatus te bereik.
Net die Mankweng-nedersetting, geleë sowat 27km oos van Polokwane op die R71-pad na Moria en Tzaneen, skuld R350 miljoen aan die munisipaliteit, ’n bedrag wat daagliks vermeerder.
Mpe se stelling dat dit dié munisipaliteit twee finansiële jare gaan neem om metrostatus te bereik is vir die VF Plus ‘n blote propaganda-tegniek van die ANC om inwoners met drome van werksgeleenthede en ekonomiese groei om te koop in aanloop tot die verkiesing in 2024.
Weens die ANC se onvermoë om finansies en instandhouding te bestuur, is die munisipaliteit nie eens in staat om waterlekkasies behoorlik te herstel nie.
Hierdie onvermoë gaan gewis nie oornag verdwyn wanneer wanbestuurde munisipaliteite soos Blouberg en Lepelle Nkumpi of gebiede soos Dendron met sy onbegaanbare paaie ook as deel van die metro word nie. Ondervinding elders wys dit gaan veel eerder verswak.
Die VF Plus se standpunt is dat bestuur en beheer eerder afgewentel moet word na gemeenskappe sodat elke dorp in Limpopo oor sy eie munisipaliteit beskik.
Sodoende word elke gemeenskap se belastinggeld ook in sy eie gebied aangewend.
Pietersburg verdien beter as die ANC.