Die afgelope week se parlementêre debat oor plaasmoorde is ’n belangrike stap om die erns van die situasie te erken, skryf Pieter Groenewald.
In die eerste helfte van Februarie vanjaar is 16 boere vermoor.
Is dit normaal?
Tot nou skram die regering weg van uitsprake oor plaasmoorde. Hulle gaan so ver om te besluit (in 2007) om nie meer statistieke van plaasmoorde en plaasaanvalle bekend te maak nie.
Op my vrae waarom die statistieke nie gegee word nie, was die antwoord dat dit maar soos enige ander moord is.
Ná Februarie se 16 plaasmoorde het ek aan die speaker van die parlement geskryf en gevra vir ’n dringende debat oor plaasmoorde. Sy het aanvanklik geweier. Ek het aangedring op ’n persoonlike gesprek met haar, waarna sy tot ’n debat ingestem het.
Die toestaan van die debat is reeds ? belangrike stap vooruit, want vir die eerste keer sedert 1994 erken die parlement nou dat plaasmoorde wel van dringende openbare belang is.
Is plaasmoorde soos enige ander moord – soos die minister sê?
Die moordsyfer op boere is vier keer meer as die gewone moordsyfer in Suid-Afrika. Dit bewys dat boere geteiken word.
Dit is amper drie keer gevaarliker om te boer as om ’n polisielid te wees.
Prof. Rudolph Zinn, van die departement polisiepraktyk by Unisa, het bevind dat die gemiddelde getal aanvallers in plaasaanvalle agt is teenoor vier in huisroof in dorpe en stede. As ons na die wreedheid en marteling in plaasmoorde kyk, is dit duidelik dat dit nie net gewone misdaad is nie.
Dit kan nie gewone misdaad wees as mense gemartel word totdat hulle sterf nie, waar ’n vrou ure aaneen verkrag word terwyl haar man gedwing word om dit te aanskou, waar mense se koppe vergruis word en hulle aan die brand gesteek word, kookwater in die slagoffer se keel afgegooi word, met warm strykysters gebrand word of waar ’n elektriese boor gebruik word om gate in ? vrou se voete te boor.
In ’n geval by Parys is ’n boer se testikels uitgesny en deur die aanvallers geëet nadat hulle dit gekook het. Dit is die skokkende en ongemaklike waarheid oor plaasmoorde.
Suid-Afrika is ’n gewelddadige land met ’n moordsyfer van 33 per 100 000 van die bevolking. Die wêreldgemiddeld is maar sewe per 100 000. Die moordsyfer vir polisielede in Suid-Afrika is 54 per 100 000. Vir boere is dit 133 per 100 000. Hiervolgens is dit amper drie keer gevaarliker om te boer as om ’n polisielid te wees.
Die polisieverslag oor plaasaanvalle in 2003 het bevind dat die kanse vir ’n boer om in ? plaasaanval beseer te word twee keer meer en om te sterf drie keer meer is as vir iemand in ’n transitorooftog.
Dit regverdig ’n parlementêre debat en spesiale polisieaandag.
Soos verwag, het politieke partye soos die EFF en Agang SA hul ware kleure gewys en probeer om dit ’n rassisme-debat te maak.
Soos verwag, het politieke partye soos die EFF en Agang SA hul ware kleure gewys en probeer om dit ’n rassisme-debat te maak.
Statistieke van die polisie toon dat in die tydperk 1991–2016 daar 2 339 mense in 14 589 aanvalle op plase vermoor is. Hiervan was 40% swart en 60% wit.
Die afgesaagde EFF-argument dat wit boere hul werkers sleg behandel, hulle vir ape aansien en skiet en die werkers eenvoudig mishandel, is weer eens gebruik.
Die ironie is dat in die fietsvoorval waarna verwys is, dit nie ’n boer was wat betrokke was nie, maar ’n sendeling, en dat die kind wat as ’n aap in ’n boom aangesien en doodgeskiet is, deur ’n swart man, Phelamandla Myeza, geskiet is.
In die polisieverslag word verwys na die Helen Suzman-stigting wat bevind het dat in die minimum gevalle (minder as 1,8%) die moordenaars die boer of plaaswerkers geken het. Dit is dus nie plaaswerkers wat hul eienaars vermoor nie.
Dit is wel jammer dat die debat tot daardie vlak gedaal het, want wat die EFF en Agang SA eintlik sê is dat as jou werkgewer jou sleg behandel, kan jy hom of haar maar wreedaardig vermoor!
Tans is daar ’n besliste verband tussen die toename in plaasmoorde en politieke uitsprake van politieke leiers wat wit mense daarvan beskuldig dat hulle die grond gesteel het.
Die polisieverslag het bevind dat daar wel ’n politieke motief bestaan by plaasmoorde, maar die presiese persentasie is moeilik om te bepaal.
’n Belangrike voordeel van die debat was dat ander politieke partye in die parlement gedwing is om hulle oor plaasmoorde uit te spreek – en 95% het dit sterk veroordeel.
Die witskrif oor veiligheid en sekuriteit deur die parlement se polisiekomitee identifiseer “kwesbare groepe”, maar meld slegs vroue, kinders en buitelanders in Suid-Afrika. Ek het voorgestel dat boere ook daarby gevoeg moet word as kwesbare groep.
Ná die debat sal dit moeilik wees om dit nie te aanvaar nie. Die minister van polisie het in sy antwoord gesê hy ag aanvalle en moorde op boere nie gering nie, en verstaan hul kwesbaarheid.
Hy het hom ook daartoe verbind om voorstelle oor plaasmoorde sterk te steun.
Om die debat mee op te volg gaan ek onder meer by die polisiekomitee voorstel dat landelike beveiliging spesialisondersoekspanne kry, dat reserviste vermeerder word, finansiële ondersteuning vir veiligheidsnetwerke gegee word, opsweping teen wit boere veroordeel en vervolg word, meer polisievoertuie gegee word en ’n behoorlike wetenskaplike ondersoek na die oorsake en wreedheid van plaasmoorde gedoen word.
Afgesien van die menslike tragedie van plaasmoorde raak dit ons almal. In 1994 was daar sowat 65 000 kommersiële boere in Suid-Afrika – tans is daar slegs 35 000.
Hierdie boere produseer 95% van ons kos. Boere word minder, terwyl die bevolking van 55 miljoen wat moet eet, meer word.
Daarom is voedselsekerheid belangrik – anders is hongersnood ons voorland.
Die boere van Suid-Afrika verdien, oor politieke grense heen, ons almal se ondersteuning.
* Pieter Groenewald is leier van die VF Plus.