Dit is onaanvaarbaar dat die binnelandse sake-kantoor op Harrismith sy deure vroeg sluit vir die publiek en dit so kort voor die laaste registrasienaweek.
Die VF Plus het na vele klagtes vanuit die gemeenskap van Harrismith, Dinsdag besoek afgelê by dié kantoor.
Teen 14:00 was die perseel verlate met slegs ‘n sekuriteitswag wat die kantore beman met die verskoning dat die kantoor ʼn waterprobleem ervaar.
Na ʼn eenvoudige ondersoek het die VF Plus vasgestel dat daar wel water in die krane en toilette is.
Dit is onaanvaarbaar dat die publiek deur hierdie verkorte ure die reg ontneem word om hul identiteitsdokumente so kort voor die registrasienaweek af te haal of vir ʼn tydelike ID-dokument aansoek te doen.
Dit ontneem kiesers effektiewelik van hul demokratiese reg om te stem en so hul toekoms te bepaal.
Dit is ʼn fundamentele reg wat beskerm word deur die Grondwet en nou geskend word weens die laksheid van amptenare van binnelandse sake.
Die VF Plus het ʼn klag hieroor ingedien by die kantoor van die nasionale minister van binnelandse sake en gaan dit ook opneem in die parlementêre portefeuljekomitee.
Binnelandse sake-kantore is nou veronderstel om langer ure oop te wees om die publiek te help, maar swak dienslewering het die norm geword.
Kiesers moet van die komende verkiesing gebruik maak om van die ANC ontslae te raak en te vervang met ʼn koalisieregering waarvan die VF Plus deel is, om swak dienslewering uit te roei.