"Jaar na jaar word gepraat oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se ontoereikende begroting, en dit sal waarskynlik voortduur omdat daar nie die politieke wil van die ANC-regering is om die situasie te verander nie," het Dr. Pieter Groenewald,VF Plus-leier Vrydag in die begrotingsdebat van die departement van verdediging en militêre veterane gesê.
"Net so is dissipline in die weermag ‘n probleem waaroor die VF Plus jaar na jaar praat, maar wat nie verbeter nie.
"Dissipline in die weermag is ononderhandelbaar. Dit skep trotse soldate. Indien daar egter gekyk word na voorvalle waarby soldate onlangs betrokke was, moet die vraag gevra word of Suid-Afrika nog ‘n trotse weermag het. Dit is kommerwekkend, en die rede is dat die bevelstruktuur nie daarin slaag om dissipline toe te pas nie.
"Een voorbeeld is die weermag se berede eenheid waar perde weens wanvoeding gevrek het. Die lede doen nie hul werk nie, en wil net rondsit tot die einde van die maand om ‘n salaris te ontvang. Hulle doen nie eens die moeite om te kyk of al die perde daar is, en of daar genoeg kos vir die perde is nie.
"Dit beteken bloot die bevelstruktuur was laks. En as die bevelstruktuur laks en ongedissiplineerd is, kan daar nie verwag word dat die manne en vroue in uniform gedissiplineerd sal wees nie.
"Nog ‘n voorbeeld is waar ‘n soldaat onlangs na ‘n voorval in hegtenis geneem is en onmiddellik oneervol ontslaan is. Dit is die regte ding om te doen, maar dieselfde persoon was verlede jaar in ‘n ander voorval betrokke waar hy mense van ‘n motorfiets probeer afry het, en toe die vrou hom konfronteer, het hy haar geskiet.
"Hy is nooit in hegtenis geneem nie, en uit gesprekke met die polisie het dit geblyk hy kry spesiale behandeling omdat hy die bestuurder van ‘n generaal in die weermag is. Indien daar toe al teen hom opgetree is, sou hy die boodskap gekry het dat jy nie net kan doen wat jy wil nie.
"In ‘n ander voorval het ‘n offisier (maj. M.V. Mohlala) erge rassistiese uitlatings op sosiale media gemaak en is hy daarna slegs liggies oor die vingers getik. Sulke gevalle breek dissipline verder af en die VF Plus gaan die man aankla by die Gelykheidshof.
"Politieke aktiwiteite kan nie in die weermag toegelaat word nie. Die weermag moet elke burger van die land gelyk behandel, ongeag hul kleur of politieke oortuigings," het Groenewald gesê.