fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC se historiese lojaliteit orden Suid-Afrika se buitelandse beleid

"Suid-Afrika se buitelandse beleid van die afgelope twee dekades is grootliks rigtingloos en word hoofsaaklik georden deur die ANC se historiese lojaliteite, en nie deur gesonde ekonomiese beleid in belang van die inwoners van die land nie," het Wouter Wessels, VF Plus parlementêre woordvoerder vir internasionale betrekkinge en samewerking gesê.

Wessels het in die begrotingsdebat van dié deartement Vrydag in die parlement gesê die regering is boonop nie konsekwent in sy beleid nie.

"Die Dalai Lama is sedert 2009 drie keer toegang tot Suid-Afrika geweier. Sowat 430 000 mense van sy tuisland, Tibet, is deur die Sjinese vermoor, maar daaroor swyg die ANC.

"Die ANC sê sy buitelandse beleid is gegrond op menseregte en teen onderdrukking. Tog veroordeel die regering nie die optrede van die president van Venezuela, Nicolas Maduras, onder wie se bewind een van die grootste menseregte-krisisse van die onlangse tyd plaasgevind het nie.

"Die rede hiervoor is natuurlik historiese lojaliteit, net soos die misplaaste lojaliteit teenoor Omar al-Basjir. Net so die onderdrukking van spraakvryheid in Rusland onder president Vladimer Poetin en die Sjinese onder president Xi Jinping.

"Suid-Afrika benodig ‘n gesonde buitelandse beleid om geloofwaardigheid in die oë van die hele wêreld te kry. Dit is ongelukkig tot ‘n groot mate vernietig deur die vorige president, Jacob Zuma, en die voormalige minister van internasionale betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabane.

"Die misplaaste lojaliteit teenoor Brics, en vennote soos Rusland en Sjina met geen positiewe handelsbalans nie, het Suid-Afrika se buitelandse geloofwaardigheid groot skade berokken.

"Die geld wat tans deur die departement vermors en wanaangewend word, is skokkend en moet dringend aandag geniet. Die land open al hoe meer buitelandse missies sonder enige strategiese doelwit. Koördinasie tussen departemente moet verbeter om ‘n positiewe handelsbalans te verkry.

"Die ANC se historiese lojaliteite alleen gaan dit nie vermag nie. Die ANC-regering moet kyk wat in lande soos Venezuela gebeur waar eiendomsreg aangetas is.

"Daar is geen balans in die land se buitelandse beleid nie. Die regering moet kyk wat is in belang van die land en sy mense, en moet vergeet van historiese lojaliteite soos dié teenoor Kuba waar duisende dokters opgelei word wat nie bevoeg is om in Suid-Afrika se eiesoortige omstandighede te werk nie," het Wessels gesê.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.