fbpx
Vryheidsfront Plus

Bring waardigheid terug na die parlement

Die vlak van debatte word al hoe swakker aangesien daar enersyds nie meer ag geslaan word op wat lede vir mekaar sê nie, en andersyds omdat die paar minute wat partye tot hul beskikking het om te praat, meestal gebruik word om vernederende skelwoorde na mekaar te slinger en in klankgrepe -  ook bekend as soundbytes – te praat,"het adv. Anton Alberts, VF Plus voorsitter, gesê.

"Die feit dat die ANC soveel tyd kry om te praat terwyl ander partye se tyd verskraal word tot drie minute of minder, dra ook hiertoe by. Die formule waarvolgens praattyd ingedeel word, moet meer regverdig gemaak word," het Alberts Dinsdag tydens die begrotingsdebat oor die parlement gesê. 

"Dit is ontstellend dat die oneffektiewe parlementslede selfs verder afgesink het tot die vlak van skel, beledig en persoonlike dreigemente waar kwalik verbloemde rassisme aan die orde van die dag is. Dit kan nie langer geduld word nie en die parlement sal moet optree om weer respek tussen lede te vestig.

"Die toesighoudende rol van die parlement moet ook aandag geniet. Die parlement is grondwetlik verplig om 'n toesighoudende rol oor die uitvoerende gesag te speel, maar het in ‘n belangrike oomblik in die geskiedenis geweier om dit te doen tydens die Nkandla-sage waar die vorige president Jacob Zuma ten alle koste deur lede van die regerende party beskerm is.

"Toe die winde van verandering skielik binne die ANC begin waai, het die party ‘n naatlose ommekeer gedoen in die stryd teen staatskaping.  Die nuwe energie van die parlement teen staatskaping is bemoedigend, maar waarom was dit nodig om hierdie punt te bereik deur die binnewerkinge van die ANC? Dit is nie hoe die parlement veronderstel is om te funksioneer nie.

"Noudat daar weer positiewe tekens is, wil die VF Plus ‘n beroep doen dat die parlement op die minste sal bly funksioneer soos nou, maar dat daar tog ook meer noukeurig gewerk sal word om die uitvoerende gesag verantwoordbaar te hou.

"Dit is in die hele land se belang dat parlementslede, selfs al verteenwoordig hulle die regerende party, hul verantwoordelikheid in hierdie verband sal besef en nakom.

"Laastens wil die VF Plus die parlementêre personeel – van skoonmakers tot biblioteekpersoneel – bedank vir hul harde werk en ondersteuning in soms moeilike omstandighede. Dié mense verdien respek en parlementslede moet besef dat die instelling nie sonder hulle sal kan funksioneer nie," het Alberts gesê.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.