Die VF Plus veroordeel die uitsprake van blatante rassisme en rassehaat in die Tshwane-metroraad na aanleiding van die besoek van ‘n groep Voortrekkers aan die raad ten sterkste, sê Sakkie du Plooy, VF Plus-raadslid vir die Tshwane-metroraad.
Du Plooy sê die groep Voortrekkers het gevra om ‘n raadsitting by te woon om meer te wete te kom van die funksionering van plaaslike bestuur en om die prosedures en waarde van ‘n raadsitting self te ervaar.
“Die Speaker het verskillende groepe en individue verwelkom en toe sy aankondig dat ‘n groep Voortrekkers die sitting bywoon, het pandemonium losgebars. Sy het vooraf kortliks die aktiwiteite en doelwitte van die Voortrekkers as kultuurorganisasie bekend gemaak en toe begin om die kinders individueel welkom te heet.
“Sy het duidelik genoem dat die Voortrekkerbeweging hom aktief beywer vir gesonde verhoudinge tussen alle kultuurgroepe in die land.
“’n Stroom besware is geopper deur sprekers van die EFF en die ANC. Opmerkings is geskreeu soos ‘rassiste’, ‘gaan terug skooltoe’, ‘julle is rassiste en julle ouers leer julle rassisme’.
“Die burgemeester het die situasie probeer kalmeer om die kinders te beskerm teen die luide rassistiese opmerkings en blatante rassistiese haatspraak van EFF- en ANC-sprekers. Die groep kinders het uiteindelik die raadsaal verlaat.
“Dit is ironies dat minute voor die voorval ‘n groep bestaande uit slegs swart busbestuurders toekennings ontvang het wat deur almal aanvaar is. Toe die wit kinders verskyn, is gevra waarom daar nie kinders van ander groepe tussen hulle is nie.
“Die EFF en ANC het luidkeels gekla oor ‘n spreker wat daarop gewys het dat daar by ‘n volgende raadsitting ‘n swart kultuurgroep kan besoek aflê. Ook dit was nie aanvaarbaar nie.
“Die VF Plus wil dit duidelik stel dat Afrikaners ‘n reg het om hulself te organiseer in kultuurorganisasies soos die Voortrekkers. Dit word boonop gewaarborg in die land se Grondwet en die Handves vir Menseregte.
“Die VF Plus doen ‘n beroep op die ANC in Tshwane om op te hou voorgee dat hy nie-rassig is terwyl so opgetree word teen wit kinders. Die EFF moet ook verduidelik waarom hulle so rassisties opgetree het,” sê Du Plooy.
Kontaknommer: 083 448 9473