Vandag se begroting van die minister van finansies, Enoch Godongwana, het met verkeerde prioriteite ‘n gulde kans verspeel om ekonomiese groei te stimuleer.
Dié verkeerde prioriteite sluit in nóg R1 miljard in die bodemlose SAL-put terwyl die Poskantoor se reddingsboei R2,4 miljard beloop.
Dit terwyl net een rand se verdere hulp aan gefaalde staatsondernemings bykans op hoogverraad sou neerkom gegewe die land se kritieke finansiële posisie.
Hierdie vermorsing op die SAL, die Poskantoor en ander staatsondernemings moet gesien word teen die agtergrond van die land se grootste werkloosheidsyfer in die onlangse geskiedenis, ‘n staatssalarisrekening en -skuld wat buite beheer toeneem en die publiek en sakesektor wat ‘n verlore stryd teen die kragkrisis stry.
Geld moes veel eerder bestee word aan belangrike prioriteite soos ‘n groter toegewing aan die publiek om na sonkrag oor te skakel, maar ná bykans drie dekades van ANC-bewind is hierdie prioriteite totaal skeefgetrek.
Die minister het wel aangekondig dat Suid-Afrikaners voortaan 25% van die koste van sonpanele van hul belasting kan aftrek.
Die VF Plus sou wou sien dat hierdie toegewing veel hoër moes wees om Suid-Afrikaners werklik aan te spoor om in alternatiewe kragopwekking te belê in stede daarvan om miljarde op staatsondernemings te vermors.
‘n Reddingsboei sal noodgedwonge ook na Eskom uitgegooi moet word.
Eskom se skuldlas beloop sowat R400 miljard. Dit is net die regering se eie skuld dat toegelaat is dat die skuld so buitensporig toeneem en dat die kragvoorsiener in duie stort onder korrupsie en onbevoegdheid wat grooliks veroorsaak is deur swart ekonomiewe bemagtiging (SEB).
Soos die VF Plus gevra het, is persoonlike- of maatskappyebelasting nie verhoog nie. Die sogenaamde sondebelasting is wel soos verwag ook aangepas met inflasie.
Besteding en staatskuld is buite beheer en die noodgedwonge oorname van Eskom se skuld van R400 miljard gaan die fiskale posisie verder verswak.
Die situasie van die lamlendige staatsondernemings is tekenend van die staat se eie finansiële situasie. In ‘n neutedop sien dit tans as volg daar uit:
• Die begrotingstekort verhoog tot R284 miljard.
• Staatsuitgawes verhoog tot R2.24 biljoen.
• Die regering se skuld verhoog tot R5 biljoen oftewel 72% van BBP.
• Die finansieringskoste verbonde aan die skuld verhoog tot R340 miljard oftewel 5% van BBP.
• R701 miljard is begroot vir salarisse.
Die gevaar bestaan boonop dat die land se uitgawes onderskat of laer geprojekteer word om die situasie beter te laat lyk.
Dit kan ernstige tekorte laat ontstaan veral wat die salarisrekening aanbetref sonder enige werkbare plan om dit te verminder.
Die staat se salarisrekening is van die hoogste van die wêreld se ontwikkelende lande.
Dit is as persentasie van die BBP (31% in 2022) hoër as die gemiddelde van die 38 lidlande van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso).