Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ANC se vernietigende buitelandse beleid moet gestop word voor dit Suid-Afrika oor die afgrond sleep

Die ANC kan nie voortgaan om Suid-Afrika en sy mense oor ‘n ekonomiese en morele afgrond te sleep met sy gevaarlike en uittartende buitelandse beleid nie. Die tyd het aangebreek dat vennote in die regering van nasionale eenheid (RNE) hul rug styf maak daaroor.

Die VF Plus gaan pres. Cyril Ramaphosa daarom skriftelik versoek om ‘n dringende gesprek te voer oor Suid-Afrika se buitelandse beleid en sal daarna ook uitreik na ander partye in die regering om deel te word van die gesprek.

Swye oor die aangeleentheid sonder daadwerklike optrede sou op instemming neerkom en dit is gewis nie die geval nie.

Buitelandse beleid onder die ANC het katastrofiese afmetings aangeneem en kan selfs tot die ondermyning van die RNE lei. Dit is tyd dat die belange van die land eerste gestel word.

Die president sal gewys word op die erns en dringendheid van die versoek. Die ANC se optrede tans is openlik uittartend teenoor die VSA. Die onlangse “Will for Peace 2026”-vlootoefening by Simonstad getuig hiervan.

Die VSA het reeds sy ontevredenheid uitgespreek oor die vlootoefening, wat handelsbande verder benadeel. Dit juis in ‘n tyd waarin die Amerikaanse senaat oor Agoa besin.

Suid-Afrika het in dertig jaar verander van die wêreld se gewete tot ‘n land wat homself ingebed het tussen lande met twyfelagtige menseregterekords soos Iran wat nou brutaal optree teen sy eie burgers wat smag na vryheid en demokrasie.

Die lys van Suid-Afrika se vriende lees inderdaad soos ‘n “Lys van Skande”. Vriendskappe met outokrate word gestel bo menseregte en strategiese alliansies met die Weste.

Om sake te vererger, probeer die ANC nie eens meer om verskonings aan te bied vir sy dubbele standaarde nie. Die regering was vinnig om Israel en die VSA na die Internasionale Geregshof en die Verenigde Nasies (VN) te sleep met beskuldigings van volksmoord en skendings van die internasionale reg.

Die ANC kan nie Suid-Afrika se buitelandse beleid langer alleen bestuur nie. As ‘n vennoot in RNE dring die VF Plus daarop aan dat alle RNE-vennote ‘n stem kry in die besluite.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.