Die ANC-raadslede in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se blokkering van die burgersentrum met hul motors is onaanvaarbaar.
Dié raadslede dring daarop aan om met die burgemeester, Sipho Radebe, te praat oor diensleweringsprobleme, korrupsie, onbevoegde amptenare en onbestede toekennings.
Die ANC-raadslede het soos die ander raadslede van politieke partye gereeld die geleentheid om tydens raadsvergaderings hul vrae oor aangeleenthede uit te spreek en dit onder die burgemeester se aandag te bring.
Om nou die munisipale kantore te blokkeer en aan te dring op antwoorde dui op interne gevegte in die ANC.
Die VF Plus is daagliks in gesprek met die waarnemende munisipale bestuur, mnr. April Ntuli, asook met die burgemeester om diensleweringsprobleme uit te wys en op te los.
So was die party deel van die span wat die Vaalrivier se rioolbesoedeling aan die menseregtekommissie (MRK) uitgewys het en in detail die munisipaliteit se onbevoegdheid om verouderde infrastruktuur te vervang en onderhoudswerk te doen, uit te wys.
Die VF Plus los ook dikwels diensleweringsprobleme op deur druk op die munisipaliteit uit te oefen sonder om munisipale kantore te blokkeer.
Dit is tyd dat die ANC-raadslede die VF Plus se voorbeeld volg en op ‘n konstruktiewe manier bydra tot dienslewering aan die inwoners van Emfuleni.
Emfuleni verdien beter as die onbevoegde ANC.