Die ANC in Gauteng het met hul pas afgelope leierskapsverkiesing bewys dat hulle nie die belange van al die inwoners van die provinsie op die hart dra nie.
"Die premier en nuutverkose voorsitter van die ANC in die Gauteng, David Makhura se standpunt dat die ANC in die provinsie nie gaan wag vir die afhandeling van die parlementêre proses oor die onteiening van grond sonder vergoeding nie, is ‘n populistiese en gevaarlike speletjie. Die premier beskik nie oor die mag om buite die Grondwet te handel nie en sy oordrewe fokus op grondonteiening alvorens die grondwetlike proses afgehandel is sal die provinsie se inwoners duur te staan kom," sê Philip van Staden, VF Plus-LPW in Gauteng.
Van Staden sê Makhura se uitsprake oor die omstrede e-tolstelsel en korrupsie in die provinsie wat hy tot vervelens toe op elke platvorm herhaal sal geen verskil aan die lewens van gewone Gautengers maak nie.
"As Makhura en die ANC ernstig was oor die afskaffing van die e-tolstelsel en die bekamping en voorkoming van korrupsie sou hulle lankal ‘n beduidende verskil kon maak, maar die politieke wil om dit te bewerkstellig bestaan net eenvoudig nie."
Makhura het in 2015 ‘n e-tolkomitee teen miljoene rande op die been gebring wat ‘n enkele verslag gelewer het waarvan niks gekom het nie.
So-ook ondersteun die party steeds omstrede kaders soos Brian Hlongwa, ANC-hoofsweep, wat te danke aan die party ‘n mosie van wantroue, weens sy korrupte bedrywighede in die Gautengse departement van gesondheid, oorleef het.
"Die feit dat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, tot ondervoorsitter van die ANC in Gauteng verkies is, bewys dat hy die genadelose druk op Afrikaanse skole in die provinsie gebruik het om sy politieke aspirasies te vervul.
"Die geweld wat by Hoërskool Overvaal in die Sedibeng-distrik uitgebreek het na Lesufi se inmenging deur middel van ‘n Hooggeregshofbevel gestuit moes word, is ‘n sprekende voorbeeld daarvan.
"Die VF Plus is van mening dat Lesufi ‘n gevaar inhou vir die moedertaalonderrig van alle taalgroepe en dat hy sy nuwe amp kan misbruik om skole op ‘n nog groter skaal te teiken.
"Die VF Plus het al telkemale die Gautengse premier versoek om Lesufi af te dank as LUR vir onderwys. Die party het ook ‘n klag teen Lesufi by die SAPD aanhangig gemaak en is tans ook besig om Lesufi aan te kla vir die oortreding van Artikel 29 van die Grondwet.
"Die belange van die inwoners van die provinsie is duidelik nie die ANC se eerste en belangrikste prioriteit nie.
"Die verkiesing van Jacob Khawe as die ANC se nuwe provinsiale sekretaris is kommerwekkend. Khawe is gedurende November 2017 aangewys as die nuwe burgemeester van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) om sake in die munisipaliteit te probeer regruk terwyl die munisipaliteit onder provinsiale administrasie geplaas is.
"Khawe sal nie beide rolle na behore kan vervul nie. Die Emfunleni-munisipaliteit verkeer in ‘n geweldige verknorsing en het behoorlike bestuur en ‘n sterk politieke wil nodig om reggeruk te word. Die provinsiale sekretaris van die ANC sal nie hierdie voltydse taak kan uitvoer as hy hom met die party se verkiesingsveldtog en sy eie politieke aspirasies bemoei nie.
"Die VF Plus sal aan die premier voorstel om ‘n nuwe burgemeester vir Emfuleni aan te wys, anders sal die proses om Emfuleni weer lewensvatbaar te maak nie slaag nie.
"Die ANC se selfdienende neigings het duidelik na vore gekom gedurende die pas afgelope naweek se leierskapsverkiesing. Die party en individue se belange is ten koste van Gautengers se belange bevoordeel. Die party het geen aanduiding gegee dat hulle enigsins die politieke wil het om die lewensomstandighede van die inwoners van die provinsie te verbeter nie. Hulle het verkies om leë beloftes te maak en op emosionele kwessies te sinspeel om goedkoop politieke punte in aanloop tot die 2019-verkiesing te wen," sê van Staden.